RUGBY NUUS - SWD-rugby se o.13-, o.16- en o.18-ouderdomsgroepe het verlede week uitstekend gevaar by die Suidelike-streekrugbytoernooi wat ook dien as 'n voorsmakie vir die komende Cravenweek-toernooi wat in Julie in Kaapstad gespeel gaan word.
Boland, Grens en OP het almal meegeding in dié toernooi wat op die rugbyvelde van Hoërskool Oudtshoorn en Langenhoven Gimnasium gespeel was.
Martin Davids (SWD Laerskole rugbysekretaris) het verlede Donderdagaand tydens 'n gesellige geleentheid by Langenhoven Gimnasium se klubhuis die Oudtshoorn-munisipaliteit bedank vir hul borgskap om die toernooi ‘n sukses te maak.
Davids het ook tydens sy spreekbeurt melding gemaak van die munisipaliteit se finansiële bystand aan 10 plaaslike spelers, en ook in dié verband, sy waardering uitgespreek.
Nicky Hangendroom (Laerskool Hartenbos) op volle spoed deur 'n gaping.
Wat die sukses van die SWD-spanne betref het Walt Böhme (o.18-voorspelerafrigter) gesê dat die Cravenweek-afrigtingspan tevrede met hoe die seuns vertoon het as 'n eenheid as in ag geneem word dat hulle slegs drie oefeninge gehad het.
"Ons het gedurende die eerste week van die Junievakansie 'n oefenkamp waar ons die laaste voorbereiding sal doen voordat ons op 3 Julie Kaap toe vertrek vir die Cravenweek."
SWD - o. 13-uitslae:
- SWD A-span klop OP A-span (24 - 7)
- SWD B-span klop OP B-span (31 - 0)
- SWD A-span gelykop teen Grens A-span (7 - 7)
- SWD B-span klop Oudtshoorn Barbarians (34 - 0)
- SWD B-span klop Boland B-span (24 - 7)
- SWD A-span verloor teen Boland A-span (20 - 15)
SWD-o.16 en o.18-uitslae:
- SWD Grant Khomo klop OP Grant Khomo (38 - 7)
- SWD Akademiespan verloor teen OP Cravenweekspan (41 - 47)
- SWD Cravenweek klop Boland Cravenweek (29 - 19)
- SWD Grant Khomo verloor teen OP Grant Khomo (14 - 17)
- SWD Akademiespan verloor teen Boland Akademiespan (10 - 45)
- SWD Cravenweek klop OP Cravenweek (42 - 24)
Dit het meer as twee verdedigers gekos om Ajay-Julies (Saturnus Primer) vas te trek. Foto's: Wyndham Ewerts
Ray Jordan Schoeman (Van Reede) trek sy ore plat doellyn toe.
Van links is Pietie Conradie (SWD Laerskole rugbyvoorsitter), Chad Louw (Oudtshoorn-burgemeester), Ben Brinkhuys (waarnemende SWD-president) en Martin Davids (SWD Laerskole rugbysekretaris).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'