Die wedstryd was vir beide spanne 'n klipharde ervaring met geen genade wat getoon of gevra is nie. Elke span wou te alle koste as die oorwinnaars van die veld stap.
Die stryd was deurgaans baie gelykop met Evergreens wat hul kanse beter benut en in die tweede helfte vasgebyt het om die skrale voorsprong te verdedig.
Vir die toeskouers was dit naelbytsake met die uitslag wat tot die eindfluitjie in die weegskaal was.
Evergreens glo dat hierdie oorwinning hulle volgende seisoen na groter hoogtes gaan lei, maar die druk gaan op hulle wees om deurgaans soos 'n kampioenspan te speel.
Na dertig minute het Evergreens reeds met 12-0 voorgeloop, maar Barbarians het nie gaan rus nie en teen rustyd net met twee punte agter geloop.
Halfpad deur die tweede helfte het Barbarians die voortou geneem met Evergreens wat dit kort daarna weer herwin en vasgebyt het tot die einde.
Uitblinkers aan Evergreens se kant was stut Anvor Prins, haker Xavier Scholz (man van die wedstryd) en agsteman Gurshwin Muller voorlangs vuur gestook het. Die beste agterspeler was die immergroen vleuel Joseph Fortuin wat elke keer gevaarlik met bal in die hand was en skittered verdedig het. Hy is goed bygestaan deur Leegan Moos en Curwin Appolis.
Puntemakers:
Evergreens se driedrukkers was Leegan Moos, Joseph Fortuin en Anvor Prins terwyl Moos met een doelskop en twee strafdoele geslaag het.
Barbarians se enigste drie is deur Gershwin Mono gedruk met Zane Gelderbloem wat met 3 strafdoele geslaag het.
Klik hier vir fotogalery.

Spanlede en ondersteuners van Evergreens oorstelp van vreugde met die wentjek van R5 000 wat die kampioenskap meegebring het. Foto: Anton Gericke (083 277 2777).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'