RUGBY NUUS - Al het Crusaders verlede Saterdag, 30 September, teen Naka Bulle in die halfeindstryd van vanjaar se Gold Cup-kompetisie in Pretoria met 33 - 52 verloor, het hulle SWD se naam hoog gehou.
Vir die tweemalige SWD-klubkampioene was die wedstryd teen die Naka Bulle die einde van hul drome in vanjaar se kompetisie, maar alle krediet aan Crusaders want die aanloop na die halfeindstryd was nie maklik nie.
Die vorige week het hulle die Hollywoodsbets Harlequins die loef afgesteek met 'n telling van 54 - 51. Die gees in die kleedkamer was hoog want 'n tuis halfeindstryd het immers gewag vir die rugbyentoesiaste in George.
Maar toe, minder as 24 uur later, het Crusaders egter verneem dat hulle die volgende Saterdag weer in Pretoria moet aantree. Het dit dalk 'n demper op die alreeds opgewonde Crusaders-groep geplaas kan mens net wonder?
As jy wen, verwag jy om jou tuisskare met 'n gedenkwaardige oomblik op jou tuisveld te vermaak. Onderkry bestaan egter nie in die woordeskat van Crusaders nie. Na 'n week van goeie voorbereiding, fisies sowel as emosioneel, het hulle weer terugkeer na Pretoria.
Saterdag se wedstryd was by tye 'n herhaling van die vorige ontmoeting teen Harlequins. Die tempo was hoog en beide spanne was bereid om die bal rond te beweeg.
Dit was uiteindelik Naka Bulle se skrumskakel, Ettienne Storm, wat eerste oor die doellyn gedruk het met 'n suksesvolle doelskop deur sy skakelpaar, Hansie Graaf. Dit het nie lank gevat vir Crusaders om hul rekening oop te maak nie. Eric Zana het met een van sy legendariese stapspronge twee verdedigers omseil nadat hy 'n uitstekende bal van sy skrumskakel, Dillin Snel, ontvang het. Was dit sterk verdediging van beide spanne, of was dit net 'n onstuitbare aanvallende spel?
Albei spanne het gereeld agter die doellyn besoek afgelê. Naka het die telling weer gelykop gemaak met 14 elk.
Crusaders het egter nie gerus nie en het nog 'n verdoelde drie in die laaste tien minute van die eerste helfte aangeteken. Met 'n telling van 21 - 14 het die eerste veertig minute in die hewige kompetisie verbygegaan.
Die tweede helfte het afgeskop, en Crusaders moes die volgende sewe minute sonder hul slot, Chanold Mitchell, speel nadat hy net voor halftyd 'n geel kaart ontvang het.
Naka het hierdie oomblik benut en binne die eerste vyf minute hul derde drie gedruk. Crusaders het egter sterk verdedig en verhinder Naka Bulle om nog punte aan te teken terwyl hulle slegs veertien man was. Crusaders het weer gedruk in die 50ste-minuut van die wedstryd en het weer die voorsprong geneem.
Was die plaasvervangers doelbewus ingespan deur Crusaders? Gershwin Muller, agsteman van Crusaders, het herhaaldelik vrae gevra van Naka se verdediging. Hy is immers 'n invaller, en Naka het dit as 'n geleentheid gesien om met alle mag aan te val. Muller het die afbreekpunte beheer en die bal agter die skrum gedra soos 'n Pierre Spies van ouds.
Hy moes die wedstryd afhandel. In die laaste twintig minute van die wedstryd was dit egter die tuisspan wat die verdedigings-lyne van die besoekers deurboor het. Naka het die opwindende halfeindstryd gewen met 'n telling van 52 - 33.
Crusaders, julle het die SWD-unie en alle plaaslike rugbyliefhebbers ongelooflik trots gemaak. Die uitslag kan nie wegneem van wat julle vir die unie en klubrugby beteken nie. Welgedaan! Nou wag vyf weke van premierliga-rugby vir die manne in rooi.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’