RUGBY NUUS - 'n Begeesterde Maori vyftiental van George het Saterdag vir Barbarians op D'Almeida Park in 'n wurggreep gehad nog tot 10 minute voor afblaastyd. Op daardie stadium was die telling 14-7 in die guns van die tuisspan.
Barbarians wat hierdie laaste wedstryd van die eerste ronde met 29-7 gewen het, het sy ondersteuners moed laat skep vir die tweede ronde.
Daar sal egter eers hard gepraat en gewerk moet word agter die skerms. Vroeg in die eerste helfte was hulle by drie geleenthede op die aanval maar kon nie afrond nie.
Hierna het hulle in kritieke oomblikke 'n paar strafskoppe afgestaan in die vaste los. Kort voor rustyd is twee geelkaarte ook aan die tuisspan uitgedeel, die besoekers kon egter nie die situasie uitbuit nie en die rustydtelling was 14-0 in die guns van Barbarians.
In die tweede helfte het Maories met die wind van agter gespeel en eerste agter die doellyn gaan kuier na 'n teenaanval. Hierna het die besoekers met aanvallende rugby Barbarians op die agtervoet gehou, maar rotsvaste verdedeging het hulle van die doellyn af gehou.
Boonop het die deurwinterde Henry Wolhutter, heelagter van die besoekers, sy skopskoene by die huis gelos. Met die telling nog 14-7 in die tuisspan se guns diep in die tweede helfte het hy twee strafskoppe binne trefafstand gemis.
Barbarians se agterlyn verdien lof vir hul rotsvaste verdediging asook hul aanvallende spel, net jammer afronding het ontbreek.
Dewanley van Rensburg heelagter, Josh Hermanus vleul en Danvin Thomas losskakel toon groot beloftes. Saam met die Fielies-broers, Shadward (veelsydige agterlynspeler) en Allou (vleuel) het hulle by tye sprankel rugby opgelewer.
Voorlangs het die besoekers karakter getoon teen die swaarder agtal van Barbarians. Die vaste vyf van die tuisspan moet egter krediet kry vir hul dryfmaal bewegings met Roual Beukes en Vivian Groenewald aan die spits.
Puntemakers: Vir die tuis span het, Shadward Fielies, Josh Hermanus (vleuels), Daniel Abrahams (slot) en Eljaro Fleur gaan druk, terwyl Dewanley van Rensburg (heelagter) met twee doelskoppe geslaag het en Danwin Thomas met een doelskop en 'n strafskop.
Ander uitslae
- Tweedespanne: Barbarians 51 Maories 8
- Derdespanne: Barbarians 44 Maories 3
Barbarians se volgende wedstryd is teen die onoorwonne Crusaders op George (25 Junie), wat groot belangstelling onder beide klubs se ondersteuners uitlok.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'