MOSSELBAAI SPORTNUUS - Vir die Barbarians rugbyspan is dinge besig om die kreeftegang te gaan in die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Super A-klubliga.
Die Babaas het die afgelope naweek op Riversdal die tweede ronde begin soos hy die eerste ronde geëindig het. Met 'n nederlaag en dit teen die groentjie, Riversdal Blues, in dié liga. Blues, wat verlede jaar maar opgeskuif het na die A-liga, het die besoekers met 12-6 geklop.
Die Mosselbaaiers het met dié nederlaag verder op die punteleer teruggesak en beklee nou die sewende posisie. Vir die Babaas lyk 'n plek in die uitspeelrondes nou na 'n onbegonne taak en dit terwyl die tweede en derde spanne steeds die pas aangee in hulle onderskeie liga's.
Die naasbestes het Blues met 25-18 geklop terwyl die derde span met 10-12 verloor het.
Maak nie saak hoe daar na die senior span se vertonings gekyk word nie, daar is ernstig fout. 'n Paar eienaardige skeidsregterbeslissings is teen die Blues ongedaan gemaak met swak afronding. Met die talent beskikbaar moet die Babaas as een van die voorste vier spanne in dié kompetisie sy stempel afdruk, maar dit gebeur nie.
Môre speel die Babaas op hul tuisveld teen George RVK en dit is die ideale geleentheid vir die tuisspan om sake reg te stel, maar maklik sal dit nie wees nie. George RVK het in die eerste ronde op sy tuisveld teen die Babaas vasgeval en hy sal môre die nederlaag wil wreek.
Vuurwerke kan beslis verwag word en die Babaas sal vuur met vuur moet beveg om hul aansien op D'Almeida Park te herstel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'