RUGBYNUUS - Die SWD Arende is op koers om in 'n halfeindstryd van die eerste divisie van die Curriebeker- en Mzansi-reeks en uiteindelik selfs in die eindstryd te speel. Die eindstryd vind in Junie plaas.
Die Arende is nou saam met die Valke en die OP Olifante met 23 punte bo-aan die puntelys. Dit volg nadat die Arende die afgelope naweek 'n stewige oorwinning oor die Valke behaal het. Die Arende het die Valke met 33 - 24 geklop en 'n bonuspunt behaal.
Die Arende het nou vier oorwinnings in 'n ry behaal.
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, het Dinsdag 18 April gesê die wedstryd teen die Valke was moeilik. Die Valke het met vyf oorwinnings in 'n ry, vol vertroue na George gekom.
Die komende naweek speel die Arende in Potchefstroom teen die Luiperds. Volgens Moolman het die Luiperds 'n goeie span. Hulle het die afgelope naweek net-net verloor teen die OP.
'n Moeilike wedstryd word in Potchef-stroom verwag. Die Luiperds sal na verwagting die komende naweek van hul spelers inspan wat nie die afgelope naweek oorweeg kon word nie as gevolg van die Varsitybeker einstryd.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’