MOSSELBAAI HENGELNUUS - Die afgelope week het Suid-Afrika se Protea-span saam met twee internasionale spanne, Gibraltar en Luxemburg, aan die Light Tackle Boat Angling Wêreldkampioenskappe wat hier in Mosselbaai gehou is, deelgeneem.
Na die amptelike openingsseremonie, Sondag 12 Maart waartydens 'n vlag-seremonie gehou is en die lande se volksliedere gesing is, het die hengelaars Maandag 'n oefendag gehad.
Die president van Fédération Internationale de Pêche Sportive - Mer (FIPS-M), Gilbert Zangerle het 'n toespraak gelewer en saam met hom was die sekretaris-generaal van FIPS-M, Attilio la Porta. Raadsheer Niklaas Booisen wat ingestaan het vir burgemeester Dirk Kotzé, het die deelnemers en beamptes verwelkom.
Die South African Light Tackle Boat Angling Assosiation (SALTBAA) wat sedert die vroeë sestigerjare bestaan, is geaffilieer by FIPS.
Die bote is daagliks by Mosselbaai Skippers, die ou seilbootklub of Waterfront soos meeste dit ken, in die water gelaat. Elke boot het twee hengelaars en 'n skipper. Die deelnemers vang met vislyn van net 4 kg breekkrag en ligte stokke en vang een jaar in die binneland in damme en riviere en een jaar in die see. Agt bote met 16 hengelaars het deelgeneem.
Die eerste amptelike hengeldag was Dinsdag, 14 Maart. Die Protea-span het baie goed gevaar. Mike Babich en Dean Meintjies op die boot Souserig het 317 360 punte verdien en 'n totaal van 49 visse gevang. Tweede was Ockie Theunissen en Clint Spamers wat ook die grootste vis van 14,42kg ingeweeg het. Derde was Francois Blom and Darren Wright. Die Gibraltar-span het die vierde, sewende en agste plekke ingeneem terwyl die span van Luxemburg vyfde en sesde was.
Die tweede dag Woensdag, 15 Maart is gekenmerk deur ligte reën oor die hele streek maar die hengelaars is nie afgeskrik deur die weer nie. Gister was egter 'n rusdag en vandag, Vrydag 17 Maart is die finale been van die hengelkompetisie. Die prysuitdeling vind vanaand, Vrydag 17 Maart in die Mosselbaai-stadsaal plaas.
Uitslae van die kompetisie was teen spertyd van die Mossel Bay Advertiser nog nie bekend nie en sal in die 24 Maart uitgawe van die Mossel Bay Advertiser verskyn.
Beamptes by die Mosselbaai Skippers besig met die administrasie van die kampioenskappe. Foto: FIPS
Hengelaars aan die eerste Light Tackle Boat Angling Wêreldkampioenskappe wat in Mosselbaai gehou is, hier op die water in die baai van Mosselbaai tydens die drie-daagse kompetisie. Foto: Jannie du Plessis
Verwante artikels:
- Light tackle boat angling champs under way
- Anglers, dignitaries receive warm welcome to Mossel Bay, home of top sport events
- Angling compeition ceremony at town hall
- Demonstration against international angling competition
- International angling contest in town
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'