MOSSELBAAI SPORTNUUS - Op Saterdag, 8 Februarie is die aanvanklike proefneming met trips (driemanjukskei) verder gevoer en word die formaat huidig nou 'n instelling.
Daar is in twee afdelings meegeding. Die A-afdeling het uit vier spanne van drie spelers elk bestaan en die B-afdeling uit drie spanne.
Dit het uiteraard in die B-afdeling 'n loslootjie met elke wedstryd laat ontstaan. Die ouer spelers kon dus ook 'n ruskansie kry.
In die A-afdeling het die span van Bossie Boshoff met Buks Scholtz wat die voortou geneem het, met Johnny Coetzee tweede, goed presteer en die eerste plek verower. Tweede het Ewie Engelbrecht, Dolf Barnard en Sydney Stopforth met slegs ses punte agter die eerstes geeïndig. Die twee spanne het mekaar deeglik opgekuil en elk het 'n skof in hul twee kragmetings teen mekaar aangeteken.
Hartenbos se A3 en Riversdal het aansienlik minder punte behaal. In die B-afdeling was Hartenbos se Koot Swart, Johan Brummer en Chris Viljoen strate beter as hul opponente en het 27½ punte bo hul naaste teenstander, te wete Mosselbaai B geeïndig met Riversdal B in die derde plek, slegs 'n ½ punt na Mosselbaai.
Die finale uitslae is soos volg:
(Punte in hakies.)
A-afdeling:
Hartenbos A1 (59); Hartenbos A2 (53); Hartenbos A3 (35½ ); Riversdal A (24½).
B-afdeling:
Hartenbos (40); Mosselbaai (22½); Riversdal (22).
Saterdag, 15 Februarie vind die derde interdistrikte toernooi op Riversdal plaas. Die opening is om 08:00 en wedstryde begin om 08:30. Edenspelers verf hul skeie wit met groen koppe en dra die wit Eden-hemp. Die volgende spanne is deur die keurkomitee saamgestel.
Dit is die volgorde waarin die spelers speel.
A-span: Buks Scholtz, Dolf Barnard, Bossie Boshoff en Sydney Stopforth.
B-span: Jan van Dyk, Ewie Engelbrecht, Johnny Coetzee en Hendry Gerber
C1-span: Andrè la Grange, Rina Conradie, Johan Brummer en Manie Laubscher
C2-span: Koot Swart; Elias Burger; Duimpie van Zyl en Chris Viljoen.
D1-span: Abie Barnard, Sally van Tonder, Jackie Hanekom en Barry van Schalkwyk.
D2-span: Annamarie van Staden, Magriet Hanekom; Lizette Joubert en James van Tonder.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'