MOSSELBAAI NUUS - As die rugbyster en Springboklegende Kabamba Floors se drome waar word, sal daar eersdaags in die groter Mosselbaai 'n geïntegreerde sportsentrum tot stand gebring word waarby nie net die Suid-Kaap nie, maar talle sportkodes en atlete werklik sal baat.
Floors, 'n boorling van Oudtshoorn sê sport het 'n reusebydrae gehad aan sy sukses as atleet en sakeman.
"Dit was nog altyd 'n droom om te kan terugploeg in die gemeenskap waar my sport sy beslag gekry het. Sport het my in staat gestel om vir my gesin en familie 'n beter lewe te kan gee. Ek wil daarom aan jongmense dieselfde, indien nie beter nie geleenthede skep wat mense soos burgemeester Levendal vir my moontlik gemaak het."
Tydens 'n verkennende gesprek met lede van die uitvoerende burgemeesterskomitee en munisipale uitvoerende bestuur is veral klem gelê op die potensiële finansiële voordeel wat internasionale sporttoernooie en groot byeenkomste vir die dorp en streek kan meebring.
Tog is ook gewys op die noodsaak van sportontwikkeling van veral belowende atlete en die voordeel van 'n sentrum waar hierdie dienste holisties as geïntegreerde maar onafhanklike besigheidseenhede aangebied kan word.
Hoewel nog in sy kinderskoene, is planne vir 'n sportsentrum wat toeganklik is vir atlete van alle gemeenskappe in die groter Suid-Kaap 'n bewese behoefte wat gunstig ontvang is deur die Mosselbaai-munisipaliteit.
Die portefeuljevoorsitter van gemeenskapsdienste, raadslid Niklaas Booisen (links) en die direkteur van gemeenskapsdienste, Elize Nel saam met Kabamba Floors.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'