MOSSELBAAI SPORTNUUS - Daar is min tyd oor om in te skryf vir vanjaar se Touchies-toernooi wat deel is van die Mosselbaai-munisipaliteit se Sport- en Rekreasiefees.
Die toernooi vind op 7 Oktober by die D'Almeida-sportgronde plaas en daar is R22 000 op die spel om gewen te word. Die prysgeld word toegeken aan die top ses spanne by die toernooi.
Die inskrywings sluit op 4 Oktober om 12:00. Spanne wat kwalifiseer sal op 5 Oktober in kennis gestel word.
Kontak R Carelse telefonies by 044 606 500 of aanlyn by rcarelse@mosselbay.gov.za om in te skryf.
Verder op die naweek se sport-spyskaart is die Mossel Bay Race met die deelnemende seiljagte wat vanaf Simonstad seil en môre, 1 Oktober op 'n aanskoulike manier by die Mosselbaai Boot en Seiljagklub gaan eindig. Meisies en vroue word ook weer herinner aan die Steering the Course-veldtog wat vanaf 1 tot 7 Oktober plaasvind waartydens hulle meer oor seilvaart kan leer.
Sessies word daagliks in die oggend en in die middag aangebied. Kontak Elfie Holden vir meer besondherhede (082 826 3825).
Die kleinspan pak mekaar by Laerskool Park in 'n mini-rugbytoernooi en in KwaNonqaba word daar netbal gespeel. Karate-kykers kan ook die Binnenshuise Sportsentrum besoek vir Kyosei se toernooi wat vandag op Vrydag 30 September en môre op 1 Oktober plaasvind.
Vir diegene wat die slack lining-proeflopie misgeloop het, gaan gerus Sondag, 2 Oktober na Santosstrand om jou balans te beproef. Die byeenkoms begin omstreeks 10:00. Potspelspelers kan ook gaan inloer by On Cue waar spanne mekaar hierdie naweek gaan uitdaag.
Dit is vanjaar die Mosselbaai-munisipaliteit se negende Sport- en Rekreasiesfees. Die volledige program is beskikbaar by www.mosselbay.gov.za
Die plaaslike sakeman en rotsklimmer, Deon van Zyl, wys sy slag terwyl Hannes Breytenbach toekyk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'