MOSSELBAAI SPORTNUUS - Die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees is goed op dreef met verskeie sportitems wat reeds vir groot vermaak gesorg het. 'n Maand se fees van sport in Mosselbaai het verlede Saterdag met die gewilde Hartenbos-parkrun afgeskop.
Die fees bied deelnemers die geleentheid om in meer as 30 sportkodes te kompeteer, of net die spel te geniet. Met Saterdag, 15 September se parkrun het feesgangers en sportgeesdriftiges kleurvol die verrigtinge met die tema, Sport in Lente geopen.
Die komende naweek bied sportliefhebbers die geleentheid om pluimbal, klawerjas, Rugga Kids mini rugby en netbal, gewigoptel, T20 krieket asook 'n fietsry massarit te aanskou, of selfs aan van die items deel te neem.
Verskeie kaart- en tradisionele spele is ook op die fees se spyskaart.
Binnenshuise sportkodes sluit in gewigoptel, karate, veerpylkompetisies en domino's.
Vir die meer avontuurlustiges is daar items soos valskermspring, motorsport, branderplankry en bergfietsrenne.
Die fees duur tot Dinsdag, 16 Oktober, met die wegtrek van die Cape Pioneerbergfietsuithouren. Oud en jonk word met die fees geakkomodeer.
Dit is nie net sportmanne- en vroue wat by die fees baat nie, maar ook afrigters en beamptes.
Dié sportleiers het Woensdag, 19 Sep-tember vergader om sportbevordering en ander aspekte aan te spreek.
Organiseerders is welkom om hul sportitems se uitslae na Christo Vermaak (christo@groupeditors.co.za) by die Mossel Bay Advertiser te stuur.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'