OUDTSHOORN NUUS - Die Meiringspoort Challenge word weer Saterdag 26 Mei in De Rust en omgewing aangebied.
Die veldwedloop (trail run) oor twee afstande, naamlik 9,5 km en 20 km, word vir die vyfde keer aangebied, terwyl die bergfietsren (MTB) oor 19,5 km (nuut), 31,5 km en 61,5 km, vir die derde keer aangebied word.
"Die aktiwiteite bied 'n unieke geleentheid om deur hierdie spesifieke landskap te hardloop of fiets te ry, want die roetes gaan oor privaat grond,” sê Brende Brits, een van die organiseerders.
Albei aktiwiteite spring vanaf 07:30 Saterdagoggend weg by die NG Kerk De Rust. Vooraf sal gratis tee, koffie en beskuit bedien word.
Die veldwedloop neem deelnemers ‘n ent deur Meiringspoort na Barry Meijer se plaas, Meijers Rust. Daar lei die roete deur die bergagtige voetheuwels van die Swartberge, al langs 'n stroom met 'n asemrowende waterval, en tot by Pieter Schoeman se plaas Voëlgesang, en vandaar die laaste ent deur die dorp terug na die kerk. Daar is twee waterpunte.
Die bergfietsren begin by die kerk, maar ry in die teenoorgestelde rigting Oudtshoorn se kant toe voordat die roete op die Middelplaas-pad tussen plase deur vleg tot by die Willowmore-pad en terug na die kerk op die dorp. Daar is drie waterpunte.
"Met die twee tipes aktiwiteit en die verskillende afstande maak ons voorsiening vir gesinne om deel te neem," sê Brits.
Die pret begin Vrydagaand wanneer ‘n steakete met tjips en slaai in die markiestent op die kerkterrein aangebied word. Beperkte etekaartjies is vir R110 per persoon beskikbaar, so bespreek vroegtydig. Daar is ook ‘n kontantkroeg.
Saterdag gaan die vure al van vroeg af brand en braaivleis, sosaties, roosterkoek, pannekoek en brekkie-burgers word onder meer in die saal verkoop. Daar is ook 'n veilige speelplek vir kinders, gratis Wi-Fi en ‘n kontantkroeg.
Talle gelukstrekkings ter waarde van altesaam R75 000 begin 11:30. Die prysuitdeling begin 12:00.
Medaljes
Enigiemand wat die verskillende afstande binne die vasgestelde tyd voltooi ontvang ‘n medalje. Wenners in die eerste, tweede en derde plek sal goud, silwer of bronsmedaljes ontvang. Deelnemers wat die vyfde keer aan die veldwedloop deelneem sal ook 'n spesiale medalje ontvang.
Afsnytye
- Bergfietsren: 19,5 km (3 ure), 31 km (3,5 ure) en 61,5 km (5 ure)
- Veldwedloop: 9,5 km (2 ure) en 20 km (4 ure)
Laatinskrywings kan Vrydagaand tussen 17:00 en 19:00 of Saterdagoggend tussen 05:30 en 07:00 gedoen word.
Die aktiwiteite word gerugsteun deur Atletiek SWD.
Kontakbesonderhede
- Bergfietsren: Henkie du Plessis 082 396 4094
- Veldwedloop: Pieter Schoeman 082 377 0547
Vir meer inligting en aanlyinskrywingvorm, besoek www.meiringspoortchallenge.co.za, of stuur 'n epos na meiringspoortchallenge@gmail.com
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, HEssequa nuus'