Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Mens loop nie te koop met jou prestasies nie, maar 'n jou groen en goud Proteabaadjie mag jy maar met eer en lof dra.
Danie Botha, besigheidseienaar en baie bekende potspelspeler is een van Mosselbaai se sportmanne wat mens trots laat voel. Danie spog met 'n lang lys van prestasies.
Snoeker
Sy sportloopbaan het in 1984 as snoekerspeler in Windhoek in die destydse Suidwes-Afrika begin. Hy het dié land van 1986 tot en 1989 by die Suid-Afrikaanse kampioenskap verteenwoordig.
In 1990 verhuis hy na Stellenbosch waar hy Boland tussen 1992 en 1994 by die SA kampioenskap verteenwoordig.
Danie is stigterslid van Suid-Westelike Distrikte (SWD) se snoekerunie en verteenwoordig hulle tussen 1996 en 1997. Hy verteenwoordig ook sentraal-Gauteng tussen 1998 en 1999, asook Gauteng-Noord op die SA kampioenskap tussen 2000 en 2001 waar hy eerste eindig in die premier-divisie.
In 2010 wen die SWD-span die A-afdeling op die SA kampioenskap in Durban.
Potspel
In 2005 stig hy die Mosselbaai-potspelliga en verteenwoordig hy die Weskus by die SA kampioenskap vanaf 2001 tot en met 2016. In 2011 wen hy die senior span-kampioenskap en in 2012, die enkels-kampioenskap vir seniors. In 2013 is hy tweede, in 2014 die wenner en in 2015 tweede onderskeidelik by die SA kampioenskap.
In 2015 eindig hy 17de by die wêreldkampioenskap in Blackpool, Engeland terwyl die Suid-Afrikaanse ope span in die kwarteindronde teen Skotland verloor. In 2016 wen hy die SA-meesterspan-kampioenskap in Secunda en verteenwoordig weer eens die SA ope span by die wêreldkampioenskap in Blackpool, Engeland.
VIDEO: Plaaslike potspelspeler 7de op wêreldranglys
In 2017 verloor hy in die kwarteindronde in die enkels-wêreldkampioenskap in Engeland. In 2018 en 2019 verteenwoordig hy weer die SA senior span na Engeland.
As gevolg van Covid-19 was daar geen sport tussen 2020 en 2021 nie. Hy is ook deel van die hoofbestuur van Eden Cue Sport en dien as onder-voorsitter.
Buiten al Danie se prestasies het hy ook sy geliefde sport sy beroep gemaak en vervaardig hy kwaliteit potspeltafels.
In 2012 was hy eerste op die ranglys van die meestersafdeling van die Suid-Afrikaanse Blackball Federasie gelys.
Tans, in 2022 is hy sewende op die World Eight Ball seniors se ranglys.
Enigiemand wat belangstel in die potspel, kan Danie Swart kontak (082 852 1454).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'