MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai is een van die min dorpe in die groter Suid-Kaap waar die bruin gemeenskap van die vorige era besonderse rugbytalent op die veld getoon het.
Volgens navorsing uit die argiewe, het Lilywhite, een van die dorp se eerste rugbyklubs saam met Springroses, juis in die laat 1920s die botoon in Suid-Kaapse rugby begin voer.
Met die ontbinding van Lilywhite-rugbyvoetbalklub gedurende die vroeë 1930s, is Athletics-rugbyvoetbalklub in 1933 gestig.
Saam met hierdie twee rugbyklubs, Springroses en Athletics, het Groot-Brakrivier altyd die kern van die SWD-span in daardie era gevorm.
Dit sal egter verkeerd wees om nie erkening te gee aan diegene wat die platform vir Mosselbaai se bruin rugbylegendes gedurende die apartheidsjare geskep het nie. Hulle het ook vir die nageslag die weg gebaan.
Van hierdie pioniers het nie net as soldate in die Eerste Wêreldoorlog gedien nie, maar het ook die geleentheid gekry om rugby te speel. Tydens hul verblyf in Frankryk is 'n paar Mosselbaaiers opgeneem in 'n Cape Coloured Corps Invitation Team, wat by 'n paar geleenthede tussen 1917 en 1918 teen Franse uitnodigingspanne gespeel het. Hierdie voorreg het die bekende Johnie Deal, ene Titus en nog twee soldate van Mosselbaai te beurt geval.
Na afloop van die Eerste Wêreldoorlog was die einste Johnie Deal, saam met Jonkie Daniels, Willie Miller, Andrew Titus en Harry Du Pree onder Lilywhite se stigterslede. Volgens 'n byskrif op 'n spanfoto uit 1928, het hierdie rugbyklub in daardie jaar beide die Van Wyk- en die Vincent-bekers verower. Lilywhite se troefkaart was ervaring én jeug. Hierdie klub kon ook spog met 'n vader en seun, Johny en Willie Deal, wat saam vir die eerstespan uitgedraf het.
Mosselbaai sal vir jare daarna nog die mekka van bekende rugbylegendes wees wat ook in ander provinsies groot naam gaan maak het.
- Lees in 'n volgende uitgawe of aanlyn nog van Charles Theunissen se artikels oor vanmelewe se dae. Die volgende artikel handel oor die legendariese Jack du Plessis.
Een van Mosselbaai se eerste rugbyklubs, Lilywhite. Die foto dateer uit die 1920s.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'