MOSSELBAAI NUUS - Nuweling in die Mosselbaai Posduifklub, Hannes Grové wat onder die hoknaam Boemerang vlieg, het die afgelope naweek sy eerste wenposisie in die klub ingepalm toe een van sy jongduifies vir hom die Ope 2 wedvlug vanaf Kimberley (651km) in die Mosselbaai-Posduifklub gewen het.
Die Ope 1 wedvlug is deur 'n duif van Fanie Mollentze ingepalm.
Fanie se duiwe presteer baie goed en het hierdie seisoen vir hom reeds verskeie wenposisies ingepalm.
Tweede, derde en vyfde in die Ope 1 was duiwe van Danie Barnard (Barnard Lofts) en vierde weer een van Hannes. Danie palm ook die tweede en vierde plekke in die Ope 2 in, met Tol Nel derde en Alfie Ladson vyfde.
Juniors
In die junior-afdeling is dit Zante Strydom (Ope 1) en JW Schutte (Ope 2) wat met die wenposisies spog. Zante klok ook die vierde en vyfde plekke in die Ope 1 asook die tweede en vyfde plekke in die Ope 2. JW palm ook die eerste plek in die Eden Federasie se junior afdeling in.
Die tweede en derde plekke in die Ope 1 word deur onderskeidelik Logan Boshoff en Jula Meyer ingeneem terwyl Tashinga Kadye en JW onderskeidelik die derde en vierde plekke in die Ope 2 inneem.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'