MOSSELBAAI NUUS - In die seniors afdeling van die Mosselbaai Posduifklub, het Mollentze Hokke weggestap as die klubkampioen vir die 2023-vliegseisoen.
Die kombinasie van pa Sakkie en seun Fanie Mollentze, se ervaring in die duiwesport, was weer deurslaggewend om as die 2023-klubkampioen, jaaroud- en ope kampioene gekroon te word. Hulle is ook onderskeidelik as kortafstanden middelafstand-kampioene gekroon.
Die Mollentze’s het ook die beste kortafstand-, middelafstand- en jaaroudkampioen duif in die klub. Hulle eindig ook tweede in die langafstand- én sprint reekse.
Saam lewer hulle 17 wenners vir die seisoen op. Fanie skryf die prestasies toe aan goeie bloedlyne met die duiwe, wat die familie deur die jare opgebou het. Hok-higiëne, goeie ventilasie, net die beste voeding, fiksheid en gesonde duiwe is deurslaggewend.
Hul duiwe word gereeld drie tot vier keer per week vliegoefening gegee. Volgens Fanie presteer duiwe onder moeilike weersomstandighede soos bekend is in die Tuinroete waar hulle tussen drie en vier bergreekse moet baasraak om hul hokke op Mosselbaai te vind.
"Die duiweseisoen het verlede jaar afgeskop op Drie Susters en van Vryburg, wat omtrent 900km luglangs ver is tot op Mosselbaai, was dit besonders dat 99% van die duiwe op dieselfde dag terugkeer na hul tuiste," sê hy. "Aan die einde van die dag is dit net ‘n stokperdjie en al die eer kom ons Hemelse Vader toe vir Sy groot genade en dat ons die sport kan beoefen.
Sakkie Mollentze hier saam met Mollentze Hokke se versorger, Petrus.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’