TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Die eerste van vier interdistrikte jukskeitoernooie het verlede Saterdag op Riversdal afgeskop.
Spelers van WP, Kaapse Wynlande, Overberg en Eden het op Riversdal saamgetrek om hul onderskeie vaardighede met die jukskeie uit te stal.
Daar is in drie afdelings deelgeneem, 'n A-afdeling met 24 spelers (ses spanne); B-afdeling met 20 spelers (vyf spanne) en C-afdeling met 20 spelers (vyf spanne).
In totaal het 64 spelers hul kundigheid met die jukskeie kom blootstel.
Te oordeel aan die stand van punte aan die einde van die dag se spel blyk dit dat die spanne mekaar behoorlik opgedreun het.
In jukskeitaal het spelers mekaar gewys waar Dawid die wortels gegrawe het. Die punteverskil tussen spanne was klein. Skofte gegooi, was skaars, wat beteken dat aanval en verdediging deeglik beplan en besluite klinies uitgevoer is.
Deurwinterde provinsiale spelers het getoon dat met gereelde, strawwe oefening die skeie op die regte posisie in die sandput hul lê kon kry en bevredigende resultate kon lewer.
Gedurende die middaguur is daar heerlik gekuier en die swak maar ook die goeie houe deurdringend bespreek. Die positiewe uitwerking van voormelde was duidelik waarneembaar deur die namiddagskof.
Die oudste speler was die 89-jarige Koot Swart van Hartenbos. Hy sê dat hy in die Karoo geboer het voor hy hom 20 jaar gelede op Hartenbos gevestig het. Dit het hom gebrei om nou nog aktief jukskei te speel. Aan die anderkant was daar Henry Binedell van die WP wat maar 'n skrale 12 jaar oud is. In hierdie sport maak ouderdom nie saak nie.
Uitslae (punte in hakies):
A-afdeling:
- Eden A1 (45½) en WP A1 (45½); het albei in die eerste plek geeïndig; KWJ (40½);
- Eden A2 (35½); WP A2 (32½); Overberg (25½).
B-afdeling:
- Eden B1 (37½); Overberg (33½); Eden B2 (31½); WP (26); KWJ (21½).
C-afdeling:
- Overberg C1 (41½); Eden C (29); Overberg C2 (27½); KWJ (27½); WP (24½).
Aan alle spelers is 'n aandenkingstrofee oorhandig.
Volgens voorlopige beplanning vind die volgende interdistrikte kragmeting op Wellington plaas en wel op 27 November. Die Kaapse Wynlande (vroeër Boland) bied die toernooi aan. Daarna volg die toernooi in Bellville plaas op 19 Februarie en die vierde en laaste toernooi van die 2021/22 seisoen word deur Overberg-distrik aangebied en wel op 19 Maart.
Henry Gerber, voorste van Eden Jukskei verduidelik die reëls.
Die 12-jarige Henry Binedell was die jongste deelnemer.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'