MOSSELBAAI NUUS - Die 12-jarige Tiaan Opperman vang die afgelope twee jaar saam met sy pa, Marius, vis vir die Eden-distrik onder die vaandel van SALBV (Suid-Afrikaanse Ligtegerei en Boothengel Vereniging).
Tiaan, 'n leerder van Laerskool Hartenbos, het in sy eerste mededingende jaar as die beste o.16-hengelaar uit die stryd getree en ook derde algeheel in sy provinsie geëindig.
Hy het ook Eden-kleure verwerf en was kaptein van die o.16-span, wat in die Kustoernooi in September 2023 deelgeneem het.
As spanmaats het Tiaan en Madison Smith eerste geëindig. Daarna het Tiaan ook tiende geëindig by die Vroue- en Juniors Suid-Afrikaanse byeenkoms, wat in Maart 2024 plaasgevind het.
Met die 2023/24 seisoen het hy weer as die voorste o.16-deelnemer uit die stryd getree en hy het ook 'n ongelooflike eerste posisie in Eden behaal.
"Net om te verduidelik, daar is o.16, o.21-dogters en vroue, seniors en meesters. Hy het almal gewen deur eerste te eindig - op 12-jarige ouderdom dink ek dit is iets om op trots te wees!" sê sy pa, Marius.
Klein Tiaan het weer Eden-kleure gekry en gaan weer as kaptein in die Kustoernooi in September.
Tans is hy op die Suid-Afrikaanse ranglys in die 37ste posisie, maar sy pa sê hulle hoop om vinnig daarop te verbeter. Dan mik hy vir Protea-kleure.
Tiaan Opperman. Foto: Verskaf
Marius het benadruk dat elke vis gedurende die kompetisie met die "vang-en-los-metode" weer lewend terug in die water geplaas is.
Marius sê Tiaan het 'n groot liefde vir visvang en het op 5-jarige ouderdom reeds saam hom begin uitgaan see toe.
"Hy het amper groot geword op die see. Hy sê hy kan nie wag om sy skipper-lisensie op 16-jarige ouderdom te kry nie, want dan sal hy elke dag see toe gaan!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’