Video
SPORTNUUS EN VIDEO - Die duiwe-wedvlugseisoen vir 2020 het die afgelope naweek afgeskop met wedvlugte wat vanaf Drie Susters (271km) plaasgevind het. Met die slegte weerstoestande wat reeds vroeër die week vir Saterdag voorspel was, is daar vroegtydig besluit om die wedvlugloslating op Sondag, 12 Julie te laat plaasvind.
Duiweboere in die Eden-distrik het die Vrydagaand uitgesoekte duiwe na hul onderskeie klubhuise geneem waar dit in die spesiale mandjies geplaas en later deur die Eden Duiwewedvlug-unie se vragmotor opgelaai en na Drie Susters vervoer is.
Die 2020-seisoen moes op 6 Junie afskop maar weens die Covid-19-inperkingsregulasie, kon dit eers die afgelope naweek plaasvind. Duiweboere was dus baie angstig vir die seisoen om te begin en kon nie wag om hul geveerde vriende se vliegvermoë te toets nie. Lede van die onderskeie klubs moes ook eers vooraf seker maak dat alle Covid-19-maatreëls in plek is alvorens daar met die sogenaamde mandjieproses by die klubhuise begin kon word.
Die duiwe het in twee afdelings kompeteer naamlik 'n jaaroud- en die ope afdeling wat onderskeidelik om 08:00 en 09:00 losgelaat is. Die eerste jaaroud-duif van die Mosselbaai-posduifklub was dié van Danie Barnard wat om 10:47 geklok is, net meer as vier minute voor Jan Marais, wie se wenduif die tweede plek ingeneem het. Nog 'n duifie van Marias neem die derde plek in terwyl klubvoorsitter, Jan Rousseau se duiwe vir hom onderskeidelik die 4de en 5de plekke inneem met Chapmar Lofts in die 6de plek. Rousseau spog met 'n verdere 8ste en 10de plek onder die top 10 in die klub en Marais met 'n verdere 9de plek.
Marais, 'n nuwe lid by die Mosselbaai-posduifklub, het die "ou" duiweboere van dié klub behoorlik opgedreun, want sommer met die eerste wedvlug vaar hy nie net goed in die jaaroudafdeling nie, maar hy neem boonop die eerste twee plekke in die ope afdeling ook in. Hy klok sy wenduif om 11:36 en sy 2de duif om 11:40. Essie Esterhuizen klok die 3de en 6de duiwe in dié afdeling met Rousseau 4de en 7de, Barnard 5de en Marais weer 8ste, 9de en 10de onder die top 10. Beslis 'n prestasie as die klub se nuweling.
Kyk 'n video hieronder:
Volgens Marais het hy jarelank duiwe gevlieg in onder andere Bloemfontein en Klerksdorp, maar daarna vir 30 jaar uit die sport getree tot dié "gogga" hom vanjaar weer gebyt het.
Marzaan van der Linde, 'n graad 8-leerder van Hoërskool Punt wat in die junior afdeling van die klub deelneem, klok haar eerste duifie wat in die ope afdeling deelgeneem het, om 11:29.
Die duiwe sal môre, Saterdag 18 Julie op Victoria-Wes losgelaat word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'