MOSSELBAAI NUUS - Meer as 1 200 atlete vanuit 16 lande kom hierdie maand vir die Wêreldtoutrekkampioenskappe in Hartenbos bymekaar.
Die lande sluit Suid-Afrika, Baskeland, China, Duitsland, Italië, Nederland, Skotland, Chinese Taipei, België, Engeland, Ierland, Litaue, Pakistan, Switserland en Zimbabwe in.
Die kampioenskappe sal by die Hartenbos ATKV-amfiteater plaasvind en lede van die publiek kan reeds hul kaartjies by Webtickets bespreek.
Die eerste groot trekke begin reeds op Woensdag 16 September om 08:30, wanneer die klubkampioenskappe geopen word.
Op Vrydag 18 September om 08:30 skuif die fokus dan na die wêreldkampioenskappe, waar lande se nasionale spanne om die wêreldkampioenkroon sal meeding.
“Dit gaan nie net oor krag nie. Dit gaan oor spanwerk, dissipline, deursettingsvermoë, strategie en die wil om nooit tou op te gooi nie!” sê Toutrek SA se kommunikasiebeampte, Kittie Terblanche, wat self ook aan die kompetisie gaan deelneem.
Terblanche moedig inwoners aan om hierdie geleentheid by te woon, veral aangesien die kaartjie baie bekostigbaar is. Woensdag en Donderdag se kaartjies is R30 elk en Vrydag en Saterdag s’n R50 elk. Jy kan ook ’n vier-dag-kaartjie koop vir R150. Kry kaartjies aanlyn by Webtickets.
Só lyk die toutrekveld by die Hartenbos ATKV-amfiteater. Foto’s: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’