Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Suiwer ekonomies is ontwikkeling gewoonlik 'n goeie ding, solank die infrastuktuur dit kan dra; en die mark sal besluit wanneer is genoeg genoeg.
Hierdie is van die punte wat die nasionaal bekende ekonoom, Dawie Roodt, tydens 'n gesprek met Mossel Bay Advertiser uitgelig het.
Roodt was op 21 Oktober vir die Mosselbaai-sakekamer se netwerkgeleentheid in die dorp en het vooraf met die koerant gesels.
Is ontwikkeling noodwendig positief vir die mense wat reeds hier woon?
"Wel, daar is natuurlik altyd 'n prys te betaal vir ontwikkeling... maar suiwer vanuit 'n ekonomiese oogpunt is ontwikkeling gewoonlik 'n goeie ding. En een van die vereistes vir 'n ontwikkeling is natuurlik meer mense. Maar dan moet jy die infrastruktuur hê om dit te kan dra en die natuur moet dit kan dra, en byvoorbeeld genoeg water hê, en ek dink julle het dit inderdaad.
Wat vir my interessant is, is hoekom hierdie tipe goed gebeur.
Daar is 'n klomp redes daarvoor. Die sogenaamde semigrasie wat plaasvind in Suid-Afrika, want die groot stede soos Johannesburg en Pretoria is besig om uitmekaar uit te val en die mense vlug in 'n groot mate na die plekke waar hulle veilig voel en waar die plaaslike owerhede nog werk, en dit is plekke soos byvoorbeeld Mosselbaai en George."
Wat beteken dit vir ons huispryse en so?
"Ja, ek dink baie mense kla. Hulle sê dit word so duur, huispryse word so duur, maar dis mos nou maar die gevolg; dis maar hoe die mark hierdie tipe goed probeer balanseer. Aan die ander kant vind jy weer dat eiendomspryse in die groot stede waar ek nou vandaan kom in baie gevalle besig is om te daal.
Maar lyk my daar is ook 'n omgekeerde migrasie besig om plaas te vind.
Die migrasie is nie meer sterk in een rigting, in julle rigting nie; daar is nou van die mense wat weer begin terugkom. Dit is hoekom die plaaslike verkiesing, dink ek, so belangrik gaan wees, want as van die groot stede in Gauteng wat so verval het nou onder ander politieke beheer kom, kan dit dalk beter bestuur word en dit kan hierdie proses, hierdie migrasie na julle toe, dalk so 'n bietjie stuit of dalk omkeer. Daar is eintlik baie groot verskuiwings - verskuiwings wat mense aanbetref - maar daar is ook 'n politieke verskuiwing besig om in Suid-Afrika plaas te vind."
Is daar 'n punt wanneer jy moet sê hokaai?
"Nee, ek dink nie daar is 'n punt waar 'n mens moet sê hokaai, genoeg is genoeg nie. Ek glo maar jy los dit vir die mark - die mark sal daai tipe van besluite neem. Die funksie en die verantwoordelikheid van die plaaslike owerhede is om seker te maak die infrastruktuur is daar - en hierdie goedkeuring van nuwe ontwikkelings moet vinnig gebeur.
Dit is 'n goeie ding, maar moenie gaan staan en beperkings plaas nie.
Gewone reëls en so aan moet geld, maar die plaaslike owerhede moet sorg vir die infrastruktuur - en dit moet effektief wees, en dit moet goedkoop wees. Dit is hulle werk, en dit is nie hulle werk om beperkings te plaas op die privaat sektor nie."
Wat is die grootste ekonomiese fout wat 'n groeiende dorp kan maak?
"Ek sou sê die enkele grootste fout is dat die owerhede nie vinnig genoeg is om grond beskikbaar te stel vir verdere ontwikkeling nie. Daar is baie grond beskikbaar. Ek meen, daar is nou allerhande verskeie belangegroepe, ouens wat sê jy moet die natuur beskerm, jy kan nie net alles ontwikkel nie, maar daar is baie sulke grond wat eintlik aan die munisipaliteit behoort, en daardie grond moet vinnig en maklik vir verdere ontwikkeling aan die privaat sektor beskikbaar gestel word.
En as jy 'n nuwe dorpsgebied wil skep of stig, vat dit so lank om byvoorbeeld die nodige toestemming te kry en al die goed wat jy moet doen.
Dit vat partykeer jare voor jy alles kan kry voor jy 'n nuwe ontwikkeling kan begin, en dit is onnodig. Ek sou sê dit is een van die grootste hindernisse wat in die pad van vooruitgang staan."
Vind die volledige video-opname van die gesprek met Roodt, wat ook so 'n bietjie meer oor die politiek insluit, op Group Editors se YouTube-kanaal of kyk dit hieronder:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’