MOSSEL BAY NEWS - Vir Marié Ontraët is hekel veel meer as net 'n stokperdjie; dit is 'n kreatiewe reis.
En hekel is beslis nie die enigste handwerk waarmee sy haar besig hou nie. Van brei-werk, kerspitwerk en kruissteek tot tjello speel, kunsjoernaalwerk en haar nuutste liefde, die Japannese kunsvorm Kinusaiga, lyk dit asof Ontraët enigiets baasraak waarop sy haar aandag toespits.
"Hoe meer uitdagend die patroon, hoe gelukkiger is ek! Hekel is uitstekend vir die ontwikkeling van fyn motoriese vaardighede en die geheue, aangesien jy die volgorde van steke in 'n ry of rondte moet onthou. Die ritmiese herhaling van die steke help om stres te verlig. Baie vroue het al gesê dat hekel hulle deur moeilike tye gehelp het en dat dit baie terapeuties is," het sy vertel.
Handig met die hekelpen
In 'n gesprek met Mossel Bay Advertiser oor hoe haar kreatiewe reis begin het, vertel Ontraët dat sy in Graaff-Reinet grootgeword het. Haar beste vriendin het haar in 1966, toe sy 10 jaar oud was, leer hekel.
’n Kombers wat deur Ontraët gehekel is. Foto: Verskaf
"Gedurende pouses het ons op die tennispawiljoen gesit en hekel. Een van my eerste projekte, in 1967, was 'n stel plekmatjies van tou wat my ma bestel het, en ek gebruik hulle vandag nog!
"Lappies en doilies was destyds baie gewild, terwyl kleurvolle items maar skaars was," sê sy.
Toe dit tyd word om 'n loopbaan te kies, het Ontraët besluit om 'n onderwyseres te word. Sy het haar handwerk voortgesit terwyl sy in Bonnievale skoolgehou het, waar sy ook getroud is.
"Ek het onder meer die doopklere vir albei my kinders gehekel: 'n rokkie vir my dogter en 'n pragtige broekpakkie vir my seun."
Lekker met lap
Nadat Ontraët in 1989 na Ladismith verhuis het, het sy klere vir haarself en haar kinders gemaak, asook 'n paar uitrustings vir haar dogter se Barbie-poppe.
’n Projek wat deur Ontraët gehekel is. Foto: Verskaf
"Daar is soveel bevrediging daarin om 'n stuk materiaal op die tafel oop te sprei, 'n patroon uit te knip, die stukke aanmekaar te stik en 'n kledingstuk te skep. Dieselfde geld vir die omskep van bolle wol in iets moois," sê sy.
"Ek het truie vir die hele gesin gebrei. In daardie jare was kerspitwerk en kruissteek baie gewild, en ek kon my kreatiwiteit ook deur hierdie handwerk uitleef."
Die breipenne klik
In 2005 het Ontraët na Hartenbos verhuis en by die Botlierskop Privaat Wildreservaat begin werk. Sy vertel dat sy in daardie stadium van haar lewe meestal truie vir haarself gebrei het, maar dat die hekelgogga haar in 2012 behoorlik gebyt het.
"Die internet het 'n hele nuwe wêreld van die mooiste, kleurvolste patrone vir my oopgemaak. Ek het gereeld gaan wol koop en die een projek ná die ander gehekel: kleurvolle komberse, kussings, tafeldoeke en ronde lappies.
’n Kombers wat deur Ontraët gehekel is. Foto: Verskaf
"Hekel is so veelsydig. Byna enigiets kan gehekel word, en daar is soveel patrone beskikbaar."
Tjello en orkes
In 2017, op die ouderdom van 61, het Ontraët 'n tjello gekoop en by die Carpe Musicam!-orkes begin speel, waar sy oor die daaropvolgende ses jaar deel van die musiekgroep was.
"Dit was 'n ongelooflike ervaring om deel te wees van 'n groep musikante wat bymekaar gekom het om pragtige musiek onder leiding van Norman Carless en Elsabe Barkhuizen te maak. Dit het my musikale siel gevoed. 'n Mens is nooit te oud om iets nuuts te leer nie!"
Haar nuutste passies
Ontraët vertel dat haar hekelwerk, nadat die internet 'n hele nuwe wêreld vir haar oopgemaak het, mettertyd tot baie ingewikkelde patrone ontwikkel het.
Hierdie is 'n meter breë mandala-muurversiering wat Ontraët met die mosaïekoorleg-hekeltegniek gemaak het. Foto: Verskaf
"Ek kan ure lank sit en heeltemal in 'n patroon verdiep raak. Ek wissel tussen 3D-patrone en mosaïekoorleg-hekelpatrone. Ek verkies om groot komberse te hekel, waar ek in die middel begin en die ontwerp deur rye of rondtes verder uitbou.
"Ek is nie so gaande oor individuele blokkies nie, hoewel daar van die mooiste patrone beskikbaar is.
"'n Maand gelede het Kinusaiga, 'n Japannese kunsvorm, oor my pad gekom. Prente word met behulp van stukkies materiaal geskep, en dit is absoluut verslawend!
"Ek kan 'n prent binne 'n dag klaarmaak. My man, Rob, maak die rame, en hy kan skaars voorbly! Gaan loer gerus na Kinusaiga; dit is beslis die moeite werd om te ontdek," moedig sy aan.
’n Kinusaiga-kunswerk wat Marié Ontraët onlangs geskep het. Foto: Verskaf
Kreatiwiteit is koning
Ontraët sê dat haar kreatiewe siel werklik gevoed word deur die gebruik van verskillende kuns- en handwerktegnieke.
"Ek kan dit van harte aanbeveel dat oud en jonk brei, hekel of enige ander kunsvorm probeer. Daar is soveel gratis inligting en patrone op die internet beskikbaar."
Indien jy belangstel om die kuns van Kinusaiga aan te leer, kan jy Ontraët by 082 878 1944 kontak.
"Bring jou eie materiaal, en ek voorsien die res!"
’n Kinusaiga-kunswerk wat Marié Ontraët onlangs geskep het. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’