MOSSELBAAI SPORT NUUS - Mosselbaai se tweede Mayoral Rural Cup waartydens sewesrugby en netbalspanne as deel van die jaarlikse Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees kompeteer, het verlede Saterdag op Brandwag plaasgevind en is deur Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal geopen. Tydens verlede jaar se byeenkoms het Happy Hearts van Brandwag die rugbysewestoernooi gewen en het Groot-Brakrivier met die louere in die netbalkompetisie weggeloop.
Happy Hearts van Brandwag het vanjaar wéér die rugbytrofee omhoog gehou en so ook Brandwag se Happy Hearts-netbalspan.
Die spanne wat vanjaar ingeskryf het om aanspraak te maak op die spogtrofeë is Happy Hearts van Brandwag (rugby en netbal), Proteas van Ruiterbos (rugby en netbal), Black Warriors van Herbertsdale (rugby), Shamrocks van Buisplaas (rugby en netbal), Thistles van Friemersheim (rugby en netbal), Sunshine Warriors van Sonskynvallei (rugby en netbal), Titans en Young Dreams van Mosselbaai (beide rugby en netbal), Omgee Rehab van Uitbreiding 6 (netbal), Kwa Netball van KwaNonqaba (netbal) en Mustangs van Asla/D'Almeida (rugby).
In die netbal-afdeling het Omgee Rehab tweede geëindig met Friemerheim in die derde plek terwyl Groot-Brakrivier tweede was in die rugby-afdeling met Black Warriors in die derde plek.
Hope-linn van Titans was die netbalspeler van die toernooi met Omgee Rehab se Rowena, die senter van die toernooi. Alta, ook van Omgee Rehab is aangewys as die beste doelskieter en Claudia van Friemersheim die beste verdediger.
Heelagter van Groot-Brakrivier, Reduwaan Scheepers is aangewys as die rugbyspeler van die toernooi.
Selftrots
Raadsheer Levendal sê sy oogmerk met die Mayoral Rural Cup is om aan atlete van die landelikge gemeenskappe die geleentheid te gee om aan die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees deel te neem. "Vanjaar moet julle onthou dat julle op en van die veld, die dorp waar julle vandaan kom, verteenwoordig. Speel om jou dorpsmense trots te maak. Speel vir jou selftrots. Speel sodat jy eendag op hierdie geleentheid kan terugdink en besef dat dit dalk die eerste stappie tot 'n groter sportloopbaan was."
Die burgemeerster het genoem dat die Mayoral Rural Cup 'n vaste item op die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefeesprogram sal bly.
"Die Mayoral Rural Cup is hier om te bly. Die byeenkoms bied landelike gemeenskappe se jeug die kans om bo hul omstandighede uit te styg. Die positiewe gees van die kompetisie is juis omdat op gelyke vlak meegeding word tussen spelers wat vanuit dieselfde gemeenskappe afkomstig is."
Die direkteur, gemeenskapsdienste, Elize Nel en raadsheer Levendal het die borge, die Garden Route Casinogemeenskapstrust, Nedbank, Nestlé en Vodacom vir hul bydraes bedank asook vir Eden-netbal en SWD-rugby vir hulle betrokkenheid. "Sonder jul ruim borgskappe sou daar nie 'n Mayoral Rural Cup gewees het nie. Julle bydraes het geleenthede vir jong mense geskep om met trots hul passie vir sport uit te leef, en vir gemeenskappe om hul jongmense in hierdie byeenkoms se kompetisies te ondersteun," aldus Nel.
Burgemeester Harry Levendal saam met spanlede van die Happy Hearts-rugbyspan met die trofeë en tjek wat hulle ontvang het as wenners van die Mayoral Rural Cup-rugbytoernooi.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'