MOSSELBAAI JUKSKEI NUUS - Gedurende die jukskeiseisoen word normaalweg vier interdistrikte-toernooie gespeel. Die sentra waar die toernooie plaasvind is Riversdal (Eden) vroeër SWD, Wellington (Kaapse Wynlande - KWL) vroeër Boland, Bellville (Westelike Provinsie) en Kleinmond of Sandbaai (Overberg).
Die derde toernooi het verlede Saterdag op Wellington plaasgevind. Eden het 'n B1- en B2- asook 'n C-span ingeskryf. Die kompetisie was taai.
In die A-afdeling het KWL koning gekraai en het hul KWL A1-span die goue medalje verower. In die B-afdeling het Eden egter hul opponente deeglik opgedreun en is gevolglik beloon met die goue medalje.
In die C-afdeling het Eden eweneens hul opponente deeglik geroskam en kan hulle spog met die silwermedalje.
Manie Laubscher, 'n speler van weleer het na 'n aantal jare se afwesigheid sy terugkeer tot die jukskeispel gemaak. Hy het onder andere bygedra tot die C-span se sukses.
Goue medalje-wenners.
Die finale uitslae is:
A-afdeling:
KWL1 (52); WP (45), Overberg (42).
B-afdeling:
Eden (72), WP2 (59½), WP1 (57½), KWL (51½).
C-afdeling:
WP (33½), Eden (31½), Overberg1 (28½).
Saterdag, 23 Februarie, word die Charles Uys-toernooi op Hartenbos-jukskeibane gespeel.
Die belangstelling vir hierdie toernooi kring wyd uit. Dit is 'n ope dag en selfs verskeie sosiale klubs oorweeg deelname. Die opening is om 08:00 en wedstryde begin om 08:30.
Die publiek word uitgenooi om in te loer en om te kom waarneem hoe jukskei deur deurwinterde en ervare spelers gespeel word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'