SUID-KAAP SPORT NUUS - Die vierde en finale Wes-Kaapse interdistrikte-jukskeitoernooi is Saterdag, 2 Maart op Riversdal afgehandel.
Die uiteindelike wenners in alle afdelings van dié geskeduleerde toernooie is beslis.
Die opening is waargeneem deur ‘n plaaslike predikant wat 'n gepaste boodskap gebring het. Ideale weersomstandighede (sonskyn en windstilte) het die ywerige spelers vanoor die hele Wes-Kaap begroet. Die atmosfeer was gelaai met spanning want net die beste houespel sou die deurslag gee en die wenners bepaal.
Die Kaapse Wynlande (vroeër Boland) het die grootste aantal spanne ingeskryf en daardeur ook verseker dat hulle beslag kon lê op die meeste trofeë. Dit het dan ook gebeur.
In die A-afdeling was daar geen keer aan die KWL span bestaande uit Louis Badenhorst, Pieter Swart, Theuns Visser en Rian van der Walt nie. Hulle het die A-trofee loshande gewen met 41½ punte.
Finale puntestand
Punte in hakies: (Slegs die eerste drie posisies word aangedui).
A-afdeling: 1. Kaapse Wynlande (41½); 2. WP 36; 3. Eden (26½).
B-afdeling: 1. KWL (40½ ); 2. Overberg (31½); 3. Eden B1 (31).
C-afdeling: 1. WP (53½); 2. Eden (45½); 3. KWL 2 (41½).
D-afdeling: 1. KWL (43½); 2. Eden D1 (38½); 3. Overberg (36½) .
Goud-, silwer- en bronsmedaljes is toegeken aan die eerste, tweede en derde plekke.
Saterdag, 9 Maart vind die voorlaaste ligawedstryde op die Hartenbosbane plaas. Die opening is om 08:00 en aanvang van spel om 08:30.
Wenners van die A-afdeling: Pieter Swart, Rian van der Walt, Theuns Visser en Louis Badenhorst (Kaapse Wynlande).
Spelers van verskillende distrikte in gesellige luim na die dag se harde werk (spel) op die bane.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'