TUINROETE DISTRIK JUKSKEI NUUS - Die eerste van vier interdistrik jukskeitoernooie is verlede Saterdag op Wellington afgehandel.
Die gunstige uitslae deur die spanne van Eden bewys dat hierdie klein distrik met sy beperkte aantal jukskeispelers die toernooi oorheers het.
In die A-afdeling, veral waar sewe spanne mekaar die stryd aangesê het, het Eden se A-span verteenwoordig deur Jan van Dyk, Dolf Barnard, Bossie Boshoff en Elna van den Berg die ander spanne behoorlik op hul neus laat kyk.
Die spanne in hierdie afdeling is verteenwoordig deur Eden, slegs 'n A-span, WP 3 spanne te wete WP1, WP2 en WP3; KWL (vroeër Boland) te wete KWL1 en KWL2, asook Overberg (slegs een span).
Eden het geen inskrywings in die B-afdeling gehad nie vanweë 'n tekort aan spelers. Die C-afdeling het bestaan uit sewe spanne en wel soos volg: WP 1, 2 en 3; Overberg 1 en 2; KWL 1 en Eden 1 span. Die D-afdeling se inskrywings was soos volg: WP1 en 2; KWL 1, 2 en 3; Overberg 1; Eden slegs een span.
Die finale uitslae is soos volg.
Slegs die eerste drie plekke word genoem:
A-afdeling
Eden (53½); WP1 (51); WP2 (49).
B-afdeling
WP1 (58½); Overberg (53½); Kaapse Wynland (37½).
C-afdeling
Eden (56½); Overberg (48½); Kaapse Wynland (47).
D-afdeling
Overberg (55); Kaapse Wynland (52); Eden (47).
Puik jukskei is by tye gegooi, hoewel die inperking vanweë die koronavirus wel leemtes blootgelê het. Jukskeispelers het die afgelope twee maande tog 'n gebrek aan strawwe oefening getoon deurdat sommige houe nie behoorlik en effektief uitgevoer kon word nie.
Eerskomende Saterdag word die Kobus Boshoff toernooi op Hartenbos gespeel. Die belangstelling loop hoog. OP het reeds drie spanne ingeskryf.
Span-inskrywings moet teen Woensdagaand om 21:00 gedoen word. Die opening geskied om 07:30 en aanvang van wedstryde om 08:00.
Wenners van die A-afdeling - Eden: Dolf Barnard, Elna van den Berg, Bossie Boshoff, Jan van Dyk.
Wenners, C-afdeling - Eden: Ewie Engelbrecht, Emmie Prinsloo, Elias Burger, Johan van Dyk.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'