TUINROETE NUUS - Die afgelope Saterdag is die vierde en ook die laaste interdistrik jukskei-toernooi van die 2021/22 seisoen op Kleinmond gespeel.
Die hoogtepunt van dié seisoen word weerspieël in die uitsonderlike prestasie van die Eden-spanne. In al drie afdelings - A, B en D het Eden die eerste plek verower.
Die spansamestellings was in die kol.
Spelers in al die posisies het mekaar puik ondersteun. Veral met die insluiting van Buks Scholtz in die B-span is 'n ewewigtige balans geskep. In die A-afdeling is twee vroue, te wete Elna van der Berg en Arina Steyn, ingesluit wat opsluit ook 'n wending in die aanval en verdediging gebring het.
Die finale uitslae is veral indrukwekkend omdat die ander drie distrikte, WP, Kaapse Wynlande (vroeër Boland) en Overberg se spanne erg kompeterend is en dus nie te versmaai is nie. Tot hiertoe was voormelde distrikte se spanne toonaangewend.
Aangesien slegs vier C-spanne en vyf D-spanne ingeskryf het, het voormelde spanne in een afdeling teen mekaar gespeel. Elke span se punte behaal, is vir sy eie afdeling in berekening gebring.
Die Eden D-span. Agter: Zandro Groenewalt (leenspeler), Viandrie Fourie, James van Tonder en Dirk Britz (skeidsregter). Voor: Malie Pienaar.
Uitslae
A-afdeling:
Eden (34); WP2 (33); Kaapse Wynlande (30); Overberg (28½); WP1 (24½).
B-afdeling:
Eden (52); WP2 (41½); WP1 (36); Overberg 1 (32½); Overberg 2 (32); Kaapse Wynlande (31).
C-afdeling:
KWL (79½); Overberg C1 (69); Overberg C2 (59½); WP (56½).
D-afdeling:
Eden (70); Overberg 2 (55); Overberg 1 (54); KWL (54); WP (42).
Dit is opmerklik dat geen wegholoorwinnings in die verskillende afdelings behaal is nie. Die punteverskil tussen spanne was gering.
Eden A-span: Dolf Barnard, Arina Steyn, Elna van den Berg, Bossie Boshoff (leier) en Dirk Britz (skeidsregter).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'