SUID-KAAP NUUS - Die Eden A-jukskeispan bestaande uit Buks Scholtz, (Hartenbos), Dolf Barnard (George), Bossie Boshoff (Hartenbos) en Sydney Stopforth (Hartenbos) het die MP Prinsloo-jukskeitoernooi in Beaufort-Wes met twee punte (46½) bo Kaapse Wynlande (KWL 1) (44½) gewen.
Die toernooi het Saterdag, 2 Februarie plaasgevind.
Donderweer, blitse en reën het die gang van wedstryde driekeer onderbreek. Uiteraard word spelers se konsentrasie beïnvloed met noodwendige nadelige gevolge met die gooi van beslissende houe.
Distrikte wat deelgeneem het aan die gesogte toernooi was KWL, die Westelike Provinsie (WP) en Noord-Kaap, waar Kimberley die middelpunt van jukskei verteenwoordig.
Daar is in vier afdelings te wete A, B, C en D deelgeneem. Eden, die kleinste distrik met baie min spelers, het slegs in die A- en B-afdeling ingeskryf.
In aanloop tot die SA senior kampioenskappe wat vanaf 18-27 Maart in Kroonstad plaasvind, het hierdie toernooi geleentheid gebied aan spelers om hul spel op te skerp. Die oogmerk was om penkrag uit te bou en afronding prioriteit te maak.
Veral in die A-afdeling was die wedywering straf en geen wegholtellings is behaal nie. Die wedloop om die eerste plek en dus die goue medalje was tot en met die laaste wedstryd in die weegskaal.
Behalwe vir die wisselvallige weer en die sterk wind met tye het die dag voorspoedig verloop. Die vroue van die Beaufort-Wes-jukskeiklub het soos in die verlede, heerlike etes en verversings aangebied.
Die finale uitslae in die A- en B- afdelings is:
A-afdeling:
- Eden (46½), KWL 1 (44½), Noord-Kaap (41½), WP (41), KWL 2 (35½), Overberg (25½).
B-afdeling:
- Noord-Kaap (52), KWL 2 (49), Overberg (46), KWL 1 (44), WP 1 (43½), WP 2 (42½), Eden (38).
Na afloop van die verrigtinge is die braavleisvure aangesteek vir die spelers wat die aand sou oorbly om sodoende die aand gesellig af te sluit.
Soos gebruiklik by alle jukskeitoernooie word die dag begin met skriflesing en gebed geopen. Ds Japie van Straten van Beaufort-Wes het onder andere gebid om reën. Later die dag het dit gereën. Soos ook gedurende die vorige nag.
Die burgemeester raadsheer Constable, het die jukskeispelers en besoekers hartlik verwelkom, veral omdat hul verblyf ook 'n finansiële inspuiting vir die dorp bied.
Goue medaljewenners van die MP Prinsloo-jukskeitoernooi is Buks Scholtz, Dolf Barnard, Bossie Boshoff en Sydney Stopforth.
'Ons bring jou die nuutste Suid-Kaap nuus'