Video
MOSSELBAAI JUKSKEI NUUS EN VIDEO - Die jukskeiliga het verlede Saterdag plaaslik hervat na die onlangse interdistrikte kompetisie in Bellville en die 80-jarige fees van georganiseerde jukskei in Worcester.
Spanne van Riversdal, Hartenbos en Mosselbaai het mekaar die stryd op Hartenbos se jukskeibane aangesê. Slegs drie spanne in die B-afdeling asook drie spanne in die C-afdeling het ingeskryf.
Die speelprogram is sodanig aangepas dat drie tripswedstryde voormiddag in elke afdeling afgehandel is. Een spanspel (bestaande uit vier spelers per span) is voormiddag en twee namiddag gespeel.
Die tripsspel verg heelwat meer konsentrasie van elke speler. Fyn houe wat verwag word, moet deeglik beplan en met groot sekuurheid uitgevoer word. 'n Foutiewe hou kan lei tot 'n bars, dit wil sê meer as 23 punte. Sou dit gebeur moet die span wat bars weer van nul af begin tel.
Die laaste wedstryd is agt minute voor uitskeityd deur swak weer en reën kortgeknip. Die reënfluitjie het die laaste sê gehad. Die wedywering was deurgaans straf met 'n klein verskil in die finale puntestand tussen die verskillende spanne, veral tussen die eerste twee plekke.
Kyk 'n video hieronder:
Die finale uitslae is soos volg (punte in hakies):
Trips
- B-afdeling: Hartenbos B2 (30); Hartenbos B1 (29).
- C-afdeling: Riversdal C1 (33); Mosselbaai C (22); Riversdal C2 (18).
Spanspel
- B-afdeling: Hartenbos B2 (18½); Hartenbos B1 (15); Riversdal (11½).
- C-afdeling: Mosselbaai C (20); Riversdal C1 (13½); Riversdal C2 (11½).
Môre, Saterdag 23 November word die Gielie Wessels Tripstoernooi op Riversdal gespeel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'