MOSSELBAAI SPORTNUUS - 'n Hele aantal gewigstoot-atlete het die afgelope Vrydag, 5 Mei, by Heiderand aan die eerste van die "Game of Throws" reeks deelgeneem.
Die Eden Atletiek Bestuursdiens (EAB) bied dit aan en die volgende byeenkoms is op Vrydag, 2 Junie, wanneer die spiesgooiers kan aantree.
Volgens Jannie Nel, afrigter van die worpe-atlete, het hulle baie goed gedoen. Elke atleet het ses pogings gehad. Atlete wat 700 punte of meer op die internasionale puntetabel aanteken, kwalifiseer outomaties om aan enige van hulle items in die eindronde deel te neem op 1 September.
Onder die gewigstoters het JD de Jager uitgeblink met 'n stoot van 7,46m, slegs 4cm kort van haar mikpunt, wat 7,5m was. Vir die puik vertoning is sy met 'n geskenkmandjie beloon.
Chernan Joseph, Johan de Jager en Xinell Wolfvaardt het ook in hul onderskeie afdelings goed presteer.
EAB is nie 'n klub nie, maar 'n struktuur wat deur Nel geskep is om atlete af te rig en blootstelling te gee. Die struktuur werk saam met skole en klubs binne Atletiek Suid-Westelike Distrikte (ASWD) en is nie 'n plaasvervanger vir dié strukture nie.
Nel is in 2007 aangestel as onderwyser by Hoërskool Punt waar hy in 2008 begin atletiek afrig het. Hy het in April 2017 van Hoërskool Punt na Curro Mosselbaai verskuif.
Onder sy leiding as Hoërskool Punt se atletiekhoof, is verskeie hoogtepunte reeds bereik. Hy verwerf die Atletiek Suid-Afrika (ASA) vlak 2 akkreditasie as worpe-afrigter.
Hy is ook tans die enigste ASA vlak 2 worpe-afrigter in die provinsie. Hy is ook verkies as die Mosselbaai Hoërskole Atletiekvoorsitter én is voorsitter van Eden Hoërskole Atletiek. Hy verteenwoordig ook ASWD op die baan- en veld-kommissie.
Volgens Nel is daar ook 'n Mosselbaai Winterliga, Gorrie-byeenkoms en die Punt Top 10 vir Laerskole en Hoërskole begin. Hy het ook in hierdie tyd sukses behaal deur van die South African Sport Association for the Physically Disabled (SASAPD) atlete op Nasionale en Internasionale vlak te laat presteer.
Sedert sy bedanking uit die onderwys in 2019, rig hy atlete van verskeie skole tussen Riversdal en Oudtshoorn af en EAB skryf gereeld atlete in vir byeenkomste waar skole nie deelneem nie.
"Sedert 2019 word daar hard gewerk om dit moontlik te maak vir tuisskolers om aan atletiek deel te neem," sê hy.
Byeenkomste wat die laaste paar jaar in Mosselbaai gevestig is, sluit in die "Game of Throws", die Southern African Christian Schools' Sports Association (SACSSA) streeksbyeenkoms en die SACSSA Provinsiale byeenkoms.
EAB se atlete het vanjaar sover goed vertoon op provinsiale én nasionale vlak. By die Eden Skole en ASWD byeenkoms verower hulle 11 medaljes.
'n Verdere vyf medaljes word by die Wes-Kaap byeenkoms gebuit. 'n Verdere drie medaljes word by die ASA Junior en SA Skole byeenkoms ingeoes, terwyl een Veelkampe (10 kamp) medalje by die ASA Senior kampioenskappe en 'n verdere vier medaljes by die SA Meesters verower word.
Atlete en skole wat graag hulle worpe prestasies wil verbeter, is welkom om EAB op 083 265 0798 te skakel of 'n e-pos te stuur na jannie-nel@hotmail.com.
Die jong bulletjie, Johan de Jager, sê met die uitdrukking op sy gesig wat hy met die gewigstoot-bal gaan doen.
Zanri Engelbrecht wys hier met goeie tegniek hoe so 'n ysterbal gestoot moet word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’