MOSSELBAAI NUUS - Die wêreldwye opskorting of uitstel van groot internasionale sportbyeenkomste het ook na die Suid-Kaap oorgespoel en feitlik alle sportsoorte 'n kishou gegee.
Met dié dat pres Cyril Ramaphosa Sondagaand Covid-19 as 'n nasionale ramp verklaar het, het sportorganiseerders en skole in die Suid-Kaap vinnig gehoor gegee aan die president se oproep en alle sportbyeenkomste gekanselleer of tot 'n latere datum uitgestel.
Rugby
Alle rugbyaktiwiteite binne die SWD-rugbyunie se grense is op Maandag, 16 Maart met onmiddellike effek opgeskort. Dit sluit alle provinsiale verpligtinge, klubwedstryde, sosiale ligas, vriendskaplike wedstryde, oefensessies en toernooie in. Spelers word aangemoedig om wel individueel te oefen. Met klubrugby, wat allerweë as die gewildste sport in die Suid-Kaap beskou word, sal die duisende toeskouers wat weekliks opdaag om hul spanne te ondersteun, vir 'n ruk met droë monde moet sit. Klubrugby in die SWD sal eers weer op Saterdag, 24 April hervat word.
Die amptelike trekking van die Goue Beker-veldtog, wat vir 23 Maart beplan was, asook die geskeduleerde wedstryddag van 28 Maart, word uitgestel tot verdere kennisgewing.
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) sal die situasie weer op 14 April assesseer.
Krieket
Krieket Suid-Afrika (KSA) het reeds aangekondig dat alle vorme van krieket vir die volgende 60 dae gestaak word. Dit geld vir semi-professionele en provinsiale krieket asook junior en amateurkrieket.
Met die SWD-krieketseisoen feitlik iets van die verlede word dié sport dus nie so erg gekniehalter nie.
Fietsry
Die opkomende 360NE-bergfietsuitdaagwedren, wat van 24 tot 26 April in die Klein-Karoo gehou sou word, is na November vanjaar uitgestel.
Die tweede Madibaz MTB XCO-byeenkoms op 19 April en die derde een op 24 Mei, wat albei by Saasveld aangebied word, is ook in die gedrang.
Die jaarlikse Cape Epic-bergfietswedren oor agt skofte is Vrydagaand ook gekanselleer en het groot ontwrigting veroorsaak vir honderde fietsryers wat verlede naweek in die Kaap saamgetrek het vir die proloog wat Sondag sou begin.
Rolbal
Alle toernooie is in opdrag van Rolbal Suid-Afrika opgeskort en die Eden-distrik het al sy klubs versoek om pro-aktief op te tree en toernooie óf uit te stel óf te kanselleer.
Die nasionale kampioenskappe vir gestremde rolbalspelers, wat vanaf 21 tot 28 Maart in Kaapstad gespeel sou word, is gekanselleer. Verskeie plaaslike spelers sou daar in aksie gewees het.
Rolbal Suid-Afrika het ook die nasionale junior kampioenskappe gekanselleer.
Nog 'n groot toernooi wat in die stof gebyt het, is die All Cape-toernooi vir mans en vroue, wat van 29 Maart tot 3 April in Kaapstad sou plaasvind.
Verskeie rolbalklubs in Eden het enige vorm van rolbal vir minstens twee weke gehalt en ook alle aktiwiteite opgeskort.
Sokker
Alle sokkerbedrywighede in die Suid-Kaap is gestaak en alle Geolfa-klubwedstryde in die Safa Eden-streek is vir minstens twee weke opgeskort. Die organiseerders sal dan weer 'n besluit neem op grond van 'n oorhoofse besluit deur Safa. Ook die gewilde Paasfees-toernooi, waaraan tientalle spanne jaarliks deelneem, is van die baan.
Tweekamp
Die SA tweekampkampioenskappe, wat Dinsdag op Oudtshoorn sou begin, is ook afgestel weens die bedreiging van die koronavirus. Dié byeenkoms is die grootste van sy soort in die land en sou honderde atlete uit elke uithoek van die land getrek het.
Skolesport
Met skole wat Woensdag gesluit het en eers weer op 14 April heropen, wag daar 'n paar lang, droë weke op ouers en ondersteuners.
Verskeie groot toernooie is gekanselleer waaronder Hoërskool Punt se gewilde Arthur Johnson Sportweek wat vanaf 20 tot 25 Maart hier in Mosselbaai sou plaasvind.
Die Wildeklawer-superskolerugby- en netbaltoernooie asook die Noord/Suid-rugbytoernooi wat by die Hoërskool Waterkloof in Pretoria aangebied sou word is ook uitgestel.
Gholf
Wat gholf betref wil dit voorkom of die weeklikse kompetisies wel sal voortgaan, maar dat die groter klubtoernooie en -kompetisies tot verdere kennisgewing uitgestel is. Prysuitdelings sal ook nie meer plaasvind nie, maar spel op die 19de putjie sal aan die individuele spelers se oordeel oorgelaat word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'