TUINROETE | HESSEQUA SPORTNUUS -In die Suid-Kaap word jukskei gereeld met groot toewyding en erns gedurende die week beoefen.
Elke 14 dae trek verskeie klubs saam ten einde hul vaardighede in spanverband te beproef. Verlede Saterdag, 19 September was weer eens so 'n geleentheid toe die Charles Uys-dag op Riversdal van stapel gestuur is.
Ten einde meer spanne te laat speel is 'n trips-kompetisie bepaal, waar drie spelers 'n span vorm.
Spanne van Worcester, Boggomsbaai, Mosselbaai, Hartenbos en Riversdal het kragte gemeet op Riversdal.
Daar is in drie afdelings meegeding. In die C-afdeling was daar 'n klein punteverskil tussen die eerste drie spanne.
Boggomsbaai was eerste met 48 punte, Hartenbos tweede met 47 punte en Riversdal C1 derde met 45 punte. Dit was 'n strawwe wedywering.
In die A- en B-afdeling was dit 'n perd van 'n ander kleur. Hartenbos se A-span, met voorgooier Elna van den Berg, die touleier, het die jukskeiwa in beweging gebring met haar unieke en perfekte buitedraai; gevolg deur Bossie Boshoff met sy plat, dwars skei wat met meer momentum, die jukskeiwa vinniger laat beweeg het.
Hierna volg die agtergooier (briek) wat geleenthede gebied word om skofte af te rond.
As driespelspan het die voormelde drie spelers mekaar goed ondersteun en gevolglik die skofte ingeryg.
Die derde wedstryd volgens die program en wel teen Worcester se A-span sou die bepalende en beslissende wedstryd wees. Hartenbos het die spesifieke wedstryd met 12½ - 2½ gewen deurdat hulle twee puik skofte gegooi het. Daarna het Hartenbos die volgende twee wedstryde albei met 15-0 gewen. Hartenbos A wen gevolglik die A- en B-kompetisie, deur slegs 2½ punte af te staan (72½ - 2½).
Die finale uitslae was soos volg: (punte in hakies)
A- en B-afdeling:
Hartenbos A (72½); Worcester A (58); Mosselbaai B (27); Riversdal B2 (24½); Hartenbos B (22½); Riversdal B1 (20½).
C-afdeling:
Boggomsbaai (48); Hartenbos (47); Riversdal C1 (45); Worcester (32½); Mosselbaai (26½); Riversdal C2 (26).
Die volgende ligawedstryde vind op 3 Oktober om 08:00 op die Hartenbosbane plaas. Spelers word daaraan herinner om te let op hul klubkleure wat die drag en kleur van skeie en penne aanbetref.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'