Gallery Video
SPORTNUUS EN VIDEO - Die St Blaize-boogskietklub het op Sondag, 21 Augustus 'n African Bowhunting Organisation- (ABO) en Coastal Triple Crown boogskiet-kompetisie op die klub se 3D-baan op die perseel van Outeniqua Game Farm aangebied.
Sedert die klub op 4 Junie geopen is, is dit een van die sportsoorte vir die hele gesin wat menige belangstelling na die baan lok.
FOTOGALERY: St Blaize-boogskietklub bereik nuwe hoogtes
Sondag se byeenkoms het 30 deelnemers vanoor die Wes-Kaap bymekaar gebring.
Deelnemende klubs was van die St Blaize-boogskietklub van Mosselbaai, Straight Arrow-boogskietklub van Stilbaai, Knysna Outdoor Archery Circuit (KOAC) van Knysna en Plettenbergbaai en 'n klub van Oos-Londen.
Tydens die kompetisie moet skuts na 20 nagemaakte vol grootte wildspesies skiet wat strategies in die bos, bome of klippe geplaas word. Die baan strek oor 1,5km. Boogskutters kry dan die geleentheid om op elke teiken 'n maksimum van 11 punte in te vorder.
Volgens Johan Boshoff, eienaar en organiseerder van die kompetisie, is enige skut wat meer as 200 punte in dié kompetisie kan behaal, 'n skut met uitstekende vaardigheid. Kinders van so jonk as ses jaar kan aan die sport deelneem.
Vroue en kinders skiet oor 'n korter afstand na die teikens as die mans. Die maksimum skietafstand is 50m.
Nie net is dit 'n sportsoort wat die hele gesin kan beoefen nie, maar skep die geleentheid vir die hele gesin om saam kwaliteit-tyd in die natuur deur te bring. Die St Blaize-boogskutters het in totaal 12 medaljes ontvang in verskillende kategorieë.
Die uitslae van die kompetisie is as volg:
Die gouemedaljes het gegaan aan Johan Boshoff, Ian Terblanche, Thian Terblanche (8) en Ruan Brand. Die silwermedalje wenners was Lizaan Brand, Evan du Plessis (8), Ruan Kapp, Christa Kapp, Johann Strydom, Nikki Terblanche en Hanlo Nel. 'n Bronsmedalje set gegaan aan Liam Terblanché.
St Blaize-boogskietklub is elke naweek aktief waar hulle alle fasette van boogskiet beoefen. ABO 3D, South Africa National Indoor and Field Archery Association (SANIFAA), Archery Shooters Association (ASA), Africa Genisis Archers (AGA) en Fédération Internationale de Tir à l'Arc (FITA),die wêreld se beheerliggaam van die sport.
Vir die kinders bied hulle die naweek ook 'n AGA aan waar hulle soos alle ander skuts provinsiale- en nasionale-kleure kan kry. Hulle het gekwalifiseerde instrukteurs wat die kinders leer by Outeniqua Game Farm. Kinders is nie beperk tot AGA-formaat nie. Hulle kan aan enige formaat deelneem en ook provinsiaal en nasionaal deelneem.
Komende naweek, Saterdag 27 Augustus en Sondag, 28 Augutus vind daar weer vanaf 08:00 'n klubkompetisie plaas. Almal is welkom.
Vir navrae oor die sportsoort kan Johan Boshoff (076 274 3382) of Jolene Boshoff (060 926 2094) gekontak word.
3D boogskiet is die naaste wat mens kan kom aan jag en is dit 'n geleentheid om die buitelewe en natuur te geniet. Foto: Jannie du Plessis
VIDEO - ABO triple crown boogskut-kompetisie (Video: Jannie du Plessis, Mossel Bay Advertiser).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'