MOSSELBAAI NUUS - Ek was nog maar altyd langtand om volstruis te eet. Nie omdat ek geweet het hoe dit smaak nie, maar om jou waardevolle geldjies op iets uit te gee wat dalk nie lekker gaan wees nie, was dalk die groter vrees.
Verlede Saterdag is daardie vrese egter vir altyd besweer toe ons letterlik volstruis as 'n borg gehad het by die Boggomsbaai-gholfklub.
Nie net het ons heerlike volstruiswors na nege gate geniet nie, maar daar was ook 'n lekker stukkie gebraaide vlerk wat voorgesit is.
En so saam met 'n geurige marinade was dit heerlik! Vir pryse was daar stukke van die res van die volstruis, kompleet met 'n resep en bestanddele vir 'n smaaklike volstruispot.
Ek was bitter jaloers om te sien hoe die wenners wegstap met al daai vleis.
Hierdie volstruisborgdag is moontlik gemaak deur Johan "Bekkies" Muller, die skenker van die volstruis, en Hanna Roux, ons klubbestuurder, wat al die kreatiwiteit rondom die ete en pryse bygesit het. Johan is een van ons stigterslede en is nog steeds 'n entoesiastiese speler en lid van die Boggomsbaai-gholfklub.
Hanna het haar sowat twee jaar gelede by ons aangesluit en haar bekwaamheid, ywer en sprankelende persoonlikheid maak van haar die hart van ons klub. Sageslede van die omgewing kom speel graag by ons, omdat juis sy hulle so lekker kan bederf.
Aan albei van julle 'n baie groot dankie vir 'n heerlike dag vol smullekker verrassings.
Uitslae
Die weer het lekker saamgespeel en die hoë tellings is 'n aanduiding daarvan. Die wenners van die individuele stablefordkompetisie was as volg:
1. George Deerans 46; 2. Abel Pienaar 43; 3. Chris Feiertag 43; 4. Philip Fourie 42; 5. Willie van Wyk 40; 6. Conrad Carelse 39 en Jaco Pienaar 39.
Die naaste aan die penne is gewen deur Fanie Wessels op 6/15 en John van Rensburg op 9/18.
Die feestyd lê voor en Boggomsbaai-gholfklub bied 'n paar borgdae aan waarnatoe almal hartlik uitgenooi word.
Die eerste een is Mosselbaai Toyota se dag op 2 Desember, dan Jakkalsvlei op 9 Desember, Prima Part op 16 Desember en Buffelsdrift Game Lodge op 23 Desember. Skakel vir
André (082 460 0503) om plek te bespreek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'