MOSSELBAAI NUUS - Dit gebeur nie elke dag dat instansies aanbied om 'n gholfdag by 'n gholfklub te borg nie, maar op Boggomsbaai het daar sommer twee saamgespan om so 'n dag moontlik te maak.
Heinie Geldenhuys van Artificial Grass Southern Africa en Dietlof Henn van Butcher's Crossing Grill House het kragte saamgesnoer om die Boggomsbaai-gholfklub te kom bederf.
Die wind het die speeltoestande moeilik gemaak vir die 36 spelers, maar dit lyk nie asof sommige spelers daardeur benadeel is as 'n mens na die punte kyk nie. Die formaat vir mans was 'n Beterbal-Stablefordkompetisie op al die syfer 4's e 5's en 'n gekombineerde Stableford op die syfer 3's.
In die afdeling vir vroue (daar was nege vroue wat kom speel het) het hulle in 'n Scramble-houespel deelgeneem en het die volgende spelers die beste gevaar: 1. Jeanette Botha en Marius Geldenhuys 52 (netto-telling); 2. Noeline Kemp en Irmadel Loubser 67; 3. Tooi van Schalkwyk en Berti Harris 75.
In die mansafdeling het die volgende spelers bo geëindig: 1. Bennie Pienaar en Heinie Geldenhuys 49; 2. Gerrie Gouws en Hennie Pienaar 47; 3. Jarno Loubser en Johan Kemp 46; 4. Mickey Smith en Preben Kristensen 43; 5. Flaps Winterbach en Dietlof Henn 39.
Naaste aan die penne is gewen deur Flaps Winterbach op 6/15 en Noeline Kemp op 9/18.
Boggomsbaai-gholfklub se vakansieseisoen skop af met borgdae op 10 Desember (Jakkalsvlei), 17 Desember (Mosselbaai Toyota) en 23 Desember (Buffelsdrift Game Lodge).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'