GHOLFNUUS - 'n Oud-Mosselbaaier het onlangs 'n oorsese kompetisie in Kuala Lumpur gewen om die 150ste Britse Ope gholfkampioenskap op St Andrews, Skotland, by te woon.
Hy kon egter nie betyds sy visum bekom nie, maar is egter beloon met 'n besoek aan Ierland.
Bertus-Pieter Viljoen (25), het ná skool sy drie jaar PGA opleiding by die Pinnacle Point-gholfklub gedoen en is toe na Maleisië waar hy persoonlike gholfstokke maak vir kliënte.
Tydens 'n besigheids-afspraak by die Kuala Lumpur-gholfklub, het Viljoen aan 'n BOSS kompetisie deelgeneem waar deelnemers in 90 sekondes met ses probeerslae moes kyk hoe ver hulle 'n gholfbal kan slaan.
Viljoen het die kompetisie gewen deur 'n afstand van 318.3m te slaan teen deelnemers van Singapoer en Maleisië.
Vir Viljoen, wat as drie-jarige al begin gholf speel het, was dit 'n groot teleurstelling om weens visumprobleme die 150ste Britse Ope te mis.
Dit was nog altyd sy droom om by die St Andrews-baan na 'n toernooi te kyk waar groot name soos Tiger Woods, Scottie Scheffler en Jon Rahm al gespeel het.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'