TUINROETE | HESSEQUA SPORTNUUS - Dit was baie duidelik dat plaaslike kennis 'n groot rol in die 4BBB-Sagesgholftoernooi gespeel het wat Dinsdag, 3 November op Stilbaai plaasgevind het.
Die Stilbaaiers het omtrent die ander dorpe se spelers ore aangesit. Onder die eerste 10 pare is daar net een paar van 'n ander dorp.
Nie dat dit enigsins 'n demper op die skitterende spel moet plaas wat die wenpaar opgedis het nie. Dave Gravett en Pinoc Jacobs van Stilbaai teken 48 stablefordpunte aan en wen dan ook die Hennie Huysertrofee en word dus die nie-amptelike dubbelskampioene van Suid-Kaap Sages in hierdie deurmekaar Covid-19-jaar.
'n Groot groep van 59 spelers het by Stilbaai-gholfklub aangetree vir die beterbalkompetisie. 'n Mens kan nie anders nie as om die gholfklub te komplimenteer op die pragtige toestand van hul baan nie.
Die volgende pare het die beste gevaar in die beterbal stablefordkompetisie
- Dave Gravett en Pinoc Jacobs (Stilbaai) 48;
- Pierre le Roux en Arina van der Vyfer (gas) (Stilbaai) 48;
- Karel Lewis en Pieter Potgieter (Stilbaai) 47;
- Pine Pienaar en Piet van Wyk (Stilbaai) 47;
- Louis Linde en Gert Willemse (Stilbaai) 46;
- Daan Toerien (Stilbaai) en spookmaat 46;
- Vince Bruwer en Danie Terblanche (Mosselbaai) 44;
- Pieter Hoeben en Rodney Page (Stilbaai) 43.
Op 1 Desember vind die laaste Sagestoernooi vir die jaar plaas. Dit is die IPS-kompetisie om die Bertus Louw-trofee op Riversdal waar die nie-amptelike enkelskampioen van die Suid-Kaap Sages gekroon word.
Die algemene jaarvergadering sal ook voor die dag se prysuitdeling plaasvind.
Sages-wenners op Stilbaai is voor, van links: Piet van Wyk en Pine Pienaar (4de), die Hennie Huysertrofeewenners, Dave Gravett en Pinoc Jacobs, Grove Koch (voorsitter), Arina van der Vyfer en Pierre le Roux (2de) en agter Karel Lewis en Pieter Potgieter (3de).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'