TUINROETE GHOLFNUUS - Ons het altyd op skool gesê om in 'n kompetisie gelykop te speel, is soos om jou suster te soen. Nou ja, op Dinsdag, 11 Mei het die Suid-Kaap (SK) Sages en hul eweknie van Outeniekwa (O) weer die gevoel ervaar toe die jaarlikse beterbalkompetisie tussen hulle op George op 35 stablefordpunte elk geëindig het.
In dieselfde asem moet ek darem bysê dat dit altyd 'n wonderlike ervaring is om op 'n pragtige gholfbaan soos die George-gholfklub s'n te speel.
'n Totaal van 63 Sagesspelers het vanaf 07:30 in erge dou en 'n baie nat baan afgeslaan, maar vir die wenpaar was dit nie 'n probleem nie en hulle het loshande voor geëindig op 44 punte.
Die volgende pare het die beste gevaar:
1. Kwartus Sieberhagen en Eugene du Plessis (SK) 44; 2. Koos de Wet en Hennie Herselman (O) 41; 3. Dave Gravett en Pine Pienaar (SK) 41. Dave Gravett het ook die enigste spogtwee van die dag aangeteken.
Suid-Kaap se volgende Sagessaamtrek is 'n beterbalkompetisie op 25 Mei op Stilbaai.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'