TUINROETE | HESSEQUA GHOLF NUUS - Almal van ons is op sekere maniere deur die Covid-19-pandemie beïnvloed en gholfspelers moes ook die nasionale regulasies eerbiedig en die stokke tydelik bêre.
Hoewel GolfRSA met die afplatting na vlak 3 toegelaat is om sy spelers weer op die bane toe te laat, het Suid-Kaap Sages besluit om eers laag te lê. Baie van sy spelers het al aangestap in jare en om op ander bane as sy plaaslike baan te gaan speel, was vir baie nog te gevaarlik. Met die verdere afplatting van die aktiewe gevalle in SA het die bestuur van Suid-Kaap Sages egter besluit om onder streng veiligheidsmaatreëls weer kompetisies te reël.
En so het die spelers toe op 13 Oktober op Boggomsbaai bymekaargekom.
Nuwe lede wat die dag vir die eerste keer Boggomsbaai se oliesetperke kom beproef het, is Danie Terblanche en Vince Bruwer van Mosselbaai. Verder word Ettienne Schmidt van Boggomsbaai en Philip Claase van Mosselbaai ook in die Suid-Kaap Sagesgeledere verwelkom.
Drie-en-veertig spelers het aan die Fourball Alliance-kompetisie deelgeneem.
Op die syfer 3-putjies het al vier spelers se stablefordtellings getel, drie se tellings op die syfer 4s en twee op die syfer 5s. Maklik was dit nie met die sterk westewind wat sake kwaai bemoeilik het.
Die volgende vierballe het die beste gevaar:
- Willem du Plessis en Jan Taljaard (Boggomsbaai) en Johan Swart en Wessel de Bruyn (Stilbaai) 106
- Stoffel en Breggie Maritz (Mosselbaai) en Branco Celica en Alwyn Vorster (Stilbaai) 104
- Paul de Villiers (Riversdal), John van Rensburg (Boggomsbaai) en Dave Gravett (Stilbaai), saam met 'n spookmaat 103
- Van le Roux (Boggomsbaai), Frans Cilliers (Mosselbaai), Bill Hart en Karel Lewis (Stilbaai) 100
- Cassie Swanepoel en Marius Loubser (Boggomsbaai) en Grove Koch en Josef Botes (Riversdal) 100
- Kwartus Sieberhagen en Eugene du Plessis (Mosselbaai) en Basie Nortjé en Colin Sharwood (Riversdal) 100
Marius Loubser wen 'n pak wors, geborg deur JC Slagtery van Riversdal, vir die naaste aan die pen op 6/15 en teken ook die enigste spogtwee van die dag aan. Tydens die samekoms is daar ook R2 900 bymekaargemaak vir Kansa, wat saam met verskeie ander skenkings van spelers later aan Kansa oorhandig sal word.
Die laaste twee Suid-Kaap Sagessamekomste is die 4BBB-kompetisie op 3 November op Stilbaai, waar spelers kan meeding om die Hennie Huysertrofee en dan laastens die IPS-kompetisie op 1 Desember op Riversdal.
Daar ding die spelers mee om die Bertus Louw-trofee en die algemene jaarvergadering sal ook dan plaasvind.
Wenners op Boggomsbaai, voor: Branco Celika, Alwyn Vorster, Breggie en Stoffel Maritz (2de) en Grove Koch, voorsitter van Suid-Kaap Sages. Middel: Johan Swart, Wessel de Bruyn, Willem du Plessis en Jan Taljaard (1ste). Agter: Dave Gravett, Paul de Villiers en John van Rensburg (3de).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'