MOSSELBAAI NUUS - Sommer met die indraaislag na die Stilbaai-gholfbaan kon 'n mens sien dat hier 'n baanopsigter is wat sy storie ken.
Die Suid-Kaap is droog, daaroor is daar geen twyfel nie, maar die gholfbaan op Stilbaai se skoonvelde en setperke is lowergroen en lyk soos 'n oase teen die res van die omgewing.
Dit laat 'n mens sommer lus voel vir gholf.
Op Dinsdag, 7 November het 47 Sageslede van die Suid-Kaap op Stilbaai saamgetrek om in 'n beterbalkompetisie te speel.
Die Hennie Huysertrofee was ook op die spel. Die Sageslede van Stilbaai het werklik uit hul pad gegaan om dit so lekker as moontlik te maak vir al die besoekers.
Nie net is almal gul ontvang met heerlike tuisgebakte brood en lewer- en vispatee nie, maar na die tyd is almal ook getrakteer op 'n geurige worsbroodjie.
Baie dankie aan Bill Annandale en Alwyn Vorster vir die brode, die Stilbaaispelers vir die ekstra bydraes om die kostes te dek en die vroues in die kombuis vir al die voorbereidings.
Stilbaai-gholfklub se president, Thys Cronjé, is ook 'n Sageslid en hy is in die sandkuil met ernstige hartkomplikasies.
Thys is ongeag sy ouderdom een van die beste gholfers onder ons Suid-Kaaplede en ons wens hom alle beterskap toe.
In die kompetisie het die volgende pare die beste gevaar:
- Louis Linde en Peet Duncan (Stilbaai) 45
- Cassie Swanepoel en Marius Loubser (Boggomsbaai) 45
- André Cilliers en Melinda Gravett (Stilbaai) 45
- Grove Koch en Basie Nortjé (Riversdal) 44
- Arrie Greeff en Ben Wentzel (Stilbaai) 43
- Daan Toerien en André Groenewald (Stilbaai) 42
Naaste aan die penne is gewen deur Daan Toerien op 2/11 en Alwyn Vorster op 8/17, albei spelers van Stilbaai. Die Hennie Huysertrofee is gewen deur Cassie Swanepoel en Marius Loubser van Boggomsbaai.
Peet Duncan was 'n besoeker en dus kon hy en Louis Linde nie kwalifiseer vir die trofee nie.
Baie dankie aan Dirk Bosman, een van ons nuwe lede, wat 12 bottels wyn geskenk het vir pryse.
Ook aan JC Slagtery van Riversdal vir die wors vir die naaste aan die pen pryse. Baie dankie aan al die besoekers wat kom speel het: Bill en Celie Hart, Barend van den Berg, Ben Wentzel, Bruce Waldeck, Peet Duncan, André Groenewald, Donnie Jata en R Moolman.
Baie dankie aan die personeel van die Stilbaai-gholfklub, veral vir Gerida Hough en haar regterhand, Corrie.
En dan 'n groot dankie aan Bez Bezuidenhout, die baanopsigter, en sy werkers vir die pragtige toestand van julle baan.
Dit was 'n plesier om daar te speel en ons wens julle 'n besige feestyd met baie voete op die baan toe.
Die laaste Sagesbyeenkoms van die jaar vind op 28 November op Heidelberg plaas.
Die kompetisie is 'n IPS-formaat en die wenner daar ontvang die Bertus Louwtrofee.
By die saamtrek hou ons ook ons algemene jaarvergadering en kry almal ook 'n lekker bord eetgoed om tot siens te sê vir 2017.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'