MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Dikwels sit 'n organiseerder met die groot besluit om 'n sportaangeleentheid te laat aangaan en of af te stel as gevolg van die weer.
Verlede Dinsdag, 6 November, was een van daardie moeilike besluite wat Grove Koch van Riversdal moes neem toe die Suid-Kaap Sages moes besoek kom aflê.
Sy besluit om deur te druk, het op die ou end die regte een geblyk te wees. Almal het op 'n stadium sopnat gereën, maar die dag se spel is klaargemaak in heerlike warm weer.
'n Totaal van 43 spelers is op 'n heerlike ontbyt getrakteer deur Michele Sharwood en Margeruete Grove met hul aankoms. Die gasvryheid en goedversorgde baan op Riversdal was 'n heerlike ervaring.
Die kompetisie op Riversdal was om te bepaal wie die wenners van die Hennie Huysertrofee gaan wees.
Die trofee word jaarliks toegeken aan die twee spelers wat die beste vaar in die beterbalkompetisie wat op die dag gespeel word.
Vanjaar het twee plaaslike spelers die trofee gewen toe hulle 43 stablefordpunte opgestapel het. Hierdie prestasie is behaal deur Jannie Goosen en Colin Sharwood met die pragtige prestasie.
Die volledige uitslag was soos volg:
1. Jannie Goosen en Colin Sharwood (Riversdal) 43
2. Niel van Heerden (Mosselbaai) en Bill Annandale (Stilbaai) 42
3. Pieter Smuts en Dawie le Roux (Heidelberg) 42
4. Pieter Vaughan en Niel van Heerden ( Mosselbaai) 41
5. Nic Marais en Buks Reynders (Mosselbaai) 39
Naaste aan die penne, soos altyd geborg deur JC Slagtery van Riversdal, is gewen deur Niel van Heerden 4/13 en Denzil Geldenhuys van Riverdal op 8.
Chris Barnard het die enigste spogtwee van die dag behaal.
Die laaste Sagesbyeenkoms is op 27 November op Stilbaai. Die Bertus Louwtrofee is dan op die spel om die enkelskampioen vir 2018 te bepaal.
Die algemene jaarvergadering van die Suid-Kaap Sages vind ook dié dag plaas.
Wenners van die 4BBB op Riversdal is van links, Niel van Heerden en Bill Annandale (2de), Jannie Goosen en Colin Sharwood (wenners van die Hennie Huysertrofee), Grove Koch (voorsitter), Pieter Smuts en Dawie le Roux (3de).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'