RIVERSDAL NUUS - Die Suid-Kaap Sages het op Dinsdag, 24 Julie op Riversdal saamgetrek. Wat 'n plesier is dit nie om op so 'n pragtige gholfbaan te speel nie.
Ongeag die heersende droogte in hierdie geweste lê die Riversdal-gholfbaan soos 'n groen oase in 'n vaal wêreld waar niks op die stadium groei nie. Maka Swart en sy baanpersoneel kan regtig trots wees op hul harde werk om die baan in so 'n goeie toestand te hou.
'n Totaal van 54 spelers is gul ontvang by die Riversdal-gholfklub met 'n heetlike ontbyt wat deur Michele Sharwood en Marguerite Koch voorberei is.
Dis ook die derde keer in 'n ry dat daar meer as 50 spelers by 'n Sagessaamtrek was. Op die stadium is daar ook 105 Sageslede in totaal in die Suid-Kaap, 'n duidelike teken dat dinge goedgaan in die Sagesgroep. Gerhard Brandon van Stilbaai is verwelkom as nuwe lid op Riversdal.
Die formaat waaraan die spelers deelgeneem het is 'n gekombineerde beterbalkompetisie, waar die stablefordpunte van twee spelers wat saamspeel bymekaargetel word om die wenners te bepaal.
Wenners op Riversdal: Ernest Roux en Fanie Wessels (4de), Gary Ristow en Grove Koch (3de), Kosie Otto en Niel van Heerden (2de) en Breggie en Stoffel Maritz (1ste).
Die volgende pare het die beste gevaar:
- Stoffel en Breggie Maritz (Mosselbaai) 78
- Niel van Heerden en Kosie Otto (Mosselbaai) 77
- Grove Koch (Riversdal) en Gary Ristow (Stilbaai) 71
- Ernest Roux en Fanie Wessels (Boggomsbaai) 71
- Noelle van Schalkwyk (Boggomsbaai) en Melinda Gravett (Stilbaai) 71
- Denzil Geldenhuys en Davey Roberts (Riversdal) 70
- Pat Cavender ( Stilbaai) en Grove Koch (Riversdal) 69
Naaste aan die penne is gewen deur Marius Loubser (Boggomsbaai) op 8 en Reggie Moolman (Heidelberg) op 4/13. Spogtwees is behaal deur Kosie Otto op 17, Pieter Vaughan (Mosselbaai) op 17 en Marius Loubser op 4 en 8.
Die volgende Sagesbyeenkoms is op 21 Augustus op Heidelberg wanneer Suid-Kaap en Langeberg sake teen mekaar uitspook. Die byeenkoms word deur SSK geborg en is beslis 'n geleentheid om by te woon.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Tuinroete nuus'