MOSSELBAAI NUUS - Om op Mosselbaai-gholfbaan te kan speel, bly vir alle gholfspelers 'n uitsonderlike voorreg en om dan nog 'n perfekte, windstil somersdag daar te kan beleef, laat 'n mens weer in mooi dinge glo.
So was dit op Maandag, 25 Februarie toe die Suid-Kaap Sages 'n IPS-kompetisiedag op Mosselbaai aangebied het.
'n Totaal van 57 spelers het opgedaag om te kom speel en is soos gewoonlik hartlik daar ontvang deur die personeel van die Mosselbaai-gholfklub.
'n Groot getal 80-plussers wat nog aktief vir die Suid-Kaap gholf speel, het hier deelgeneem. Party loop al nader aan die 90's, maar is nog steeds 'n inspirasie vir al die jonger spelers.
Hulle is George Sadowski, Pieter Vaughan, Dawid Venter en Buks Reynders van Mosselbaai en dan ook Karl Lewis van Stilbaai. Die manne se handdrukke is nog stewig en Buks weier byvoorbeeld om saam op 'n gholfkarretjie te ry. Hy stap oral. Wat 'n voorreg om so te kan oudword. Ons hoop om almal van julle sommer nog baie jare op die baan te sien.
Twee spesiale gaste het ook Maandag saamgespeel: Brian Oosthuizen, voorsitter van Langeberg Sages, en Ivan Reddy, lid van Wes-Kaap Sages.
Albei is hier met vakansie en het vir die kompetisie by ons ingeskakel. Dan verwelkom ons ook 'n nuwe lid in ons midde, naamlik Branko Celika, voorheen 'n Sageslid in Gauteng en nou woonagtig in Stilbaai.
In die IPS-kompetisie het die volgende spelers die beste punte behaal:
1. Tinus Prinsloo (Boggomsbaai) 37
2. Fred Bull (Mosselbaai) 35
3. Chris van den Berg (Mosselbaai) 35
4. Eleonor Speelman (Boggomsbaai) 34
5. Chris Barnard (Mosselbaai) 33
6. Bruce Waldeck (Stilbaai) 32
7. Stoffel Maritz ( Mosselbaai) 32
8. Ivan Reddy (besoeker Wes-Kaap) 32
Naaste aan die penne is gewen deur Chris Barnard van Mosselbaai op 4, Thys Cronjé van Stilbaai op 8, Brian Oosthuizen van Langeberg op 12 en Johan Swart van Stilbaai op 15. Dankie aan JC Slagtery van Riversdal vir hul borgskap van die pryse. Spogtwees is behaal deur Nic Marais van Mosselbaai, Tinus Prinsloo en Chris Barnard.
Baie dankie aan die Mosselbaai-gholfklub vir die voorbereiding en gebruik van die baan. Ook aan Nic Marais 'n groot dankie vir al die organisasie verbonde aan die dag. Die volgende Suid-Kaapse Sagesbyeenkoms is op 26 Maart op Boggomsbaai.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'