GHOLFNUUS - As jy die klubkampioen op by die Boggomsbaai-gholfklub wil word, moet jy eers by die Pienaars verbykom. Dit is maar net weer verlede Saterdag bewys toe die Pienaar-seuns dié trofee vir die vyfde agtereenvolgende jaar tussen hulle drie behou het.
Hierdie keer was dit die jongste broer, Pienie, wat dit vir die tweede keer omhoog kon lig.
Maklik was dit nie want hy en sy oudste broer, Henk het na 27 putjies saam op 114 houe geëindig.
Pienie het egter op die eerste uitspeelputjie sy hand op die trofee gesit toe hy 'n voëltjie en Henk 'n syfer aanteken. Jaco, die derde broer was ook een keer in die vyf jaar die kampioen, maar laas Saterdag het hy 'n bietjie noustrop getrek. Baie geluk, Pienie.
So asof dit nie genoeg is nie, het hul oom, Bennie Pienaar die B-afdeling oor 18 putjies ook heeltemal oorheers om daarmee die Pienaar-naam nog harder uit te basuin. Baie mooi gedoen julle klomp.
Die Boggomsbaai klubkampioenskappe word jaarliks deur Elna Loubser van Gariep Finansiële Beplanners op Aliwal-Noord geborg. Baie dankie Elna vir jou volgehoue ondersteuning.
Uitslae
Die volgende spelers het goed presteer:
A-afdeling (27 putjies)
- Beste brutotelling en klubkampioen: Pienie Pienaar 114.
- Beste nettotellings van die res: 1. Henk Pienaar 111; 2. Jarno Loubser 114; 3. Johan Kemp 118.
B-afdeling (18 putjies)
- Beste brutotelling: Bennie Pienaar 82.
- Beste nettotellings van die res: 1. Flaps Winterbach 68; 2. Ernest Roux 71; 3. Cassie Swanepoel 76.
C-afdeling (18 putjies)
- Beste brutotelling: Tannah Harris 95.
- Beste nettotellings van die res: 1. Heinie Geldenhuys 75; 2. Marius Geldenhuys 77; 3. Willem du Plessis 93.
Vroue-afdeling (18 putjies) IPS
- Jeanette Botha 33; 2. Berti Harris 31; 3. Irmadel Loubser 27; 4. Noeline Kemp 22.
Stablefordkompetisie onder die mans (18 putjies)
- Bennie Pienaar 43; 2. Flaps Winterbach 40; 3. Ernest Roux 39; 4. Pienie Pienaar 38; 5.
- Henk Pienaar 37 en 6. Tannah Harris 35.
- Albei die naaste aan die penne op 6/15 en 9/18 is deur Jaco Pienaar gewen.
Pienie Pienaar, klubkampioen van Boggomsbaai-gholfklub.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'