TUINROETE GHOLFNUUS - Die eerste Sagesbyeenkoms van die Suid-Kaap het verlede Dinsdag, 28 Januarie, op Riversdal plaasgevind. Eintlik moes die kompetisie al op 21 Januarie plaasvind, maar die wonderlike reën wat daardie tyd in die omgewing geval het, het die organiseerders genoodsaak om die spel met 'n week uit te stel.
Ek glo vir die baanopsigter, Jannie Goosen, was die reën ook heel tydig, want hy kon binne week sy baan in pragtige toestand omskep vir die Sages se besoek.
'n Totaal van 43 spelers het aan die beterbalkompetisie deelgeneem en tegelykertyd is die geleentheid ook gebruik om te bepaal waar die krag binne Sages lê in die streek met 'n kompetisie tussen die westelike en oostelike dele. Oos het as oorwinnaars uit die stryd getree met 'n gemiddelde van 39,5 stablefordpunte teenoor die 38,6 van Wes.
In die beterbalkompetisie het die volgende pare die beste gevaar:
1. Eugene du Plessis en Kwartus Sieberhagen (Mosselbaai) 49
2. Nelis en Mariaan Loots (Mosselbaai) 44
3. Pine Pienaar en Piet van Wyk (Stilbaai) 44
4. André Bezuidenhout en Wessel de Bruyn (Stilbaai) 42
5. Pat Tavener en Gary Ristow (Stilbaai) 42
Die naaste aan die penne is gewen deur Dawid Gerber op nommer 8 en Eugene du Plessis op 4/13. Stoffel Maritz het 'n spogtwee aangeteken en Kwartus Sieberhagen het 'n arend behaal op nommer 11.
Die volgende Sagessaamtrek is op 24 Februarie op Mosselbaai wanneer die Suid-Kaap en Outeniekwa kragte meet in die Stigtersbeker.
Wenners op Riversdal: Piet van Wyk en Pine Pienaar, Eugene du Plessis en Kwartus Sieberhagen, Marianne en Nelis Loots en Grove Koch (voorsitter).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'