MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Na 'n jaarlange felle stryd het JJ Joubert se bestendigheid en geesdrif gesorg dat hy as gholfspeler van die jaar gekroon word. Vanaf 1 Julie 2017 tot 30 Junie 2018 ontvang spelers wat presteer punte vir die individuele kompetisies waaraan hulle deelneem. Jean Borchardt het binne trefafstand gekom en het tweede geëindig.
Gert Pieterse (derde) se knaende teenwoordigheid het hom ook vir lank in die wedloop gehou, maar aan die einde moes almal maar die aftog teen JJ blaas. Veels geluk JJ, as speler en as lojale lid van ons klub, is jy 'n waardige wenner van hierdie gesogte skild.
Woensdag
Global Golf se maandelikse borgdag op Woensdag, 20 Junie het 136 spelers laat meeding in die individuele houespelkompetisie. Martin Vorster (voorgee +4), een van ons klub se mees belowende juniors, het na sy skitter baanrekordronde (61 houe) by die junior Gholf Wêreldbeker in Japan, die A-afdeling van Global Golf se borgdag op 70 houe gewen.
Frans Smith het ook nie laat slap-lê nie en op 83 houe was hy baas in die B-afdeling. Gert Pieterse (95 houe) se akkurate houe het gesorg dat hy koning kraai in die C-afdeling. Markie Sciarone (voorgee 13) het die netto-afdeling totaal oorheers en op 64 houe was hy loshande die wenner. Ander verdienstelike tellings is deur die volgende spelers aangeteken: A Zietsman en J van den Berg, albei 67 houe, asook S Hermanus (68 houe).
Saterdag
Die Modderfontein Trustdag wat jaarliks so getrou deur Porrie Potgieter geborg word, was weer eens 'n reuse sukses. Spelers is deur die dag getrakteer met heerlike kerrie en rys. Die mededinging om die pragtige trofee was straf, maar na die uittel is Johan Buys (41 punte) as kampioen gekroon.
In die A-afdeling van die individuele stablefordkompetisie het John Blythe-Wood op 41 punte geseëvier. Gert Pieterse se 39 punte was genoeg om die C-afdeling in te palm. Porrie het ook gesorg dat die volgende spelers prystafel toe stap: S Cronjé, H Klopper, G Pool, C Barnard (almal 39 punte), B Pieterse, A Zietsman en R van Wyk op 38 punte. Dankie Porrie en mag hierdie dag nog vir baie jare vreugde aan ons gholfspelers verskaf.
Wenners van die Global Golfdag: agter: A Zietsman, F Smith, A van der Linde en J Lourens. Voor: M Sciarone, G Pieterse, S Hermanus en F van Vuuren.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'