MOSSELBAAI NUUS - ‘n Terugblik op 2021 vul ons met groot dankbaarheid, want nie net het ons die covid-pandemie suksesvol die hoof gebied nie, maar ook ‘n skitterende jaar beleef met die aantal mense wat ons klub besoek het.
Daar is altesaam 5 607 rondes gholf gedurende Desember op ons mooi baan gespeel wat die aantal rondes vir 2021 na ‘n rekord-aantal rondes van 47 839 laat opskuif het.
Selfs ‘n paar dae se erge mis, heerlike reën en winderige toestande het nie die entoesiasme van ons lede en besoekers gedemp nie. Die gewildheid van ons klub het ‘n hele klomp bekendes laat stokke swaai.
Ons was bevoorreg om selfs ons land se beste gholfspeler en Ope-wenner van 2010, Louis Oosthuizen, by sy tuisklub te verwelkom. Bekende gholfspelers soos Dean Burmester en Zander Lombard het ons met hulle teenwoordigheid verheug.
Die legendariese oud-Springbok, Gysie Pienaar, het met sy innemende geaardheid sommer diep in ons harte gekruip. Faf de Klerk kan nie net rugby speel nie, maar is self ‘n handige gholfspeler.
Van ons groot kriekethelde het ons ook met hulle teenwoordigheid verras. AB de Villiers en Albie Morkel het ook hulle gholfvaardighede op ons lowergroen baan ten toon kom stel.
Voorreg
Kompetisies is gereeld op Woensdae en Saterdae gedurende Desember 2021 aangebied. Dit was verblydend om te sien dat ons besoekers gereeld in die pryse gedeel het. Dit was voorwaar ‘n voorreg om al die besoekers te ontvang en hulle waardering vir ons baan en personeel te kon ervaar. Veilige terugreis aan diegene wat nog nie vertrek het nie.
Kompetisies
Twee besoekers het Saterdag, 1 Januarie die nuwe jaar sommmer goed afgeskop. Rudolf van Graan en Danny Calaca was heeltemal in beheer van die beterbal stablefordkompetisie en op 46 punte het hulle die wenners-podium betree. Op 43 punte het die uittel-proses ingetree en hier het die man-en vrou kombinasie van Gerhard en Susan Combrinck as gewilde naaswenners na vore getree.
Gavin Reynolds en Noël Domingo het die derde plek voor Hennie Klopper en Elias Engels op 43 punte weggeraap.
Woensdag, 5 Januarie se individuele stablefordkompetisie het aan Joe Luggen behoort. Sy 40 punte was genoeg om vir Jonathon Shelver op 39 punte as naaswenner te laat eindig. Ricus Serfontein se bestendige gholf het hom met 38 punte in die derde plek geplaas.
Die beterbal stablefordkompetisie wat Saterdag, 8 Januarie 160 spelers baan toe gelok het, is deur Hilton Duminy en sy talentvolle seun, Jordan, op 44 punte gewen. Die tweede plek is deur Clive Kaptein en Michael Kriel, ook 44 punte ingeneem. Clayton Ascencao en Heinrich Rehr se 44 punte het hulle na die uittel derde laat eindig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'