MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Met die seisoen wat nou vinnig einde toe staan, kan Mosselbaai-gholfklub met groot dankbaarheid berig dat hulle ten spyte van ‘n baie moeilike 2020 ‘n baie geseënde tyd beleef het.
Die Covid-pandemie het sy kloue wêreldwyd diep ingeslaan en Mosselbaai-gholfklub het ondanks baie moeilike omstandighede stewig staande gebly.
Deeglike beplanning deur die Raad het vrugte afgewerp, maar die mense wat die werk moes doen, verdien medaljes. Die klub se algemene bestuurder, Graeme Viljoen, se onbaatsugtige diens en entoesiasme het almal rondom hom geïnspireer om die take wat aan hulle opgedra is met onderskeiding te voltooi. Graeme, Sakkie Morrison (raadslid), Michal Rehr (kaptein), in samewerking met Gavin Coleman (baanbestuurder) het self op die snymasjiene geklim om die baan in 'n goeie toestand te hou terwyl sportfasiliteite vir spelers gesluit was.
Hierdie gebaar verdien net die grootste agting en waardering. Die oorlewingstryd was moeilik, maar met die bekwaamheid van 'n entoesiastiese Raad, onder leiding van Martin Smith (president) het die klub met vlieënde vaandels uit die stryd getree. Ons as klublede en personeel is julle baie dank verskuldig en vertrou dat ons nog vir lank die voorreg sal hê om die pad saam met julle te stap.
Die impak wat die Covid-pandemie op ons feesseisoen kon kon hê, was in groot onsekerheid gedompel. Ons jare-lange besoekers het ons egter nie in die steek gelaat nie.
Desember 2020 se aantal rondtes het op 5 633 te staan gekom. Voorwaar ‘n riem onder die hart met die omstandighede in ag genome. Baie dankie aan elke personeellid wat lang ure gewerk het en gehelp het om ons lede en besoekers gelukkig en tevrede te hou.
‘n Groot aantal kompetisies is gedurende die seisoen afgehandel en dit was verblydend om te sien hoeveel besoekers in pryse gedeel het. Die uitmuntende toestand van die baan het gesorg dat groot lof van oral ontvang is. Baie dankie Gavin Coleman (baanbestuurder) en jou span vir julle harde en getroue werk.
Op Woensdag, 6 Januarie het 180 spelers spelers aan Bounty Wildsverwerking se dag deelgeneem. Die individuele stableford kompetisie is op ‘n uitmuntende 43 punte deur Riaan Kotzé gewen.
Bernard Liebenberg, Manfred du Preez en Gloria Greyvenstein was in 'n fel stryd betrokke en met almal op 41 stableford punte moes die uittel-proses toegepas word om die wenner te bepaal. Bernard het die aanslag oorleef en het as naaswenner uit die stryd getree. Manfred en Gloria was onderskeidelik derde en vierde. Baie dankie Divvie vir jou getroue borgskap gedurende die jaar.
Saterdag, 9 Januarie het 185 spelers aan die beterbal stablefordkompetisie deelgeneem. Talvin Schultze en Jan Taljaard was onkeerbaar en op 48 punte het hulle die louere inge-oes. Die tweede en derde plekke is deur R Naidoo en M Bernardo, asook P Hitchner en B Kotzé op 47 punte ingeneem.
Die volgende spelers, S Morrison en A Lambrechts, asook D Venter en T Venter is ook nie met leë hande huis toe nie, want op 46 punte het hulle ook deel gehad in die heerlike vleispryse.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'