MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Hoewel Louis Oosthuizen met die tweede plek in die Amerikaanse Ope tevrede moes wees, het hy met sy kalmte en prysenswaardige veggees nog dieper in sy hordes ondersteuners se harte gekruip.
Lede van die Mosselbaai-gholfklub was saam met Louis teleurgesteld, maar die trots in ons harte was genoeg om te weet dat jy met die beste gholfspelers in die wêreld kon afreken.
Louis is werklik 'n skitterende voorbeeld vir al ons jong, talentvolle spelers.
Op die tuisfront het ons lede en talle besoekers die heerlike dae ten volle op die gholfbaan geniet.
Op Jeugdag, Woensdag 16 Junie, is die Denzil Kleu Eiendommedag deur 176 spelers ondersteun. Die individuele stablefordkompetisie is deur een van ons gewese senior klubkampioene, Dawid Gerber op 39 punte gewen. Die ervare joggie van Louis Oosthuizen, Wynand Stander, het hard in Dawid se nek geblaas en na die uittel is hy op 38 punte tweede geplaas. Die uittel-proses het nog verder sy loop op 38 punte geneem en die volgende spelers het in die derde tot vyfde plekke geëindig: Arrie van der Linde, Hendrik Kriek en Carlos Pinto.
Saterdag
Met die aanbreek van Saterdag, 19 Junie was die 152 spelers slaggereed vir die beterbal houespelkompetisie. Die lae voorgeë het van meet af hulle slag getoon en een van die klub se top juniors, Jordan Duminy (voorgee +5), het met die hulp van André Basson, skitterende gholf gespeel en tree as wenners uit die stryd op 64 houe. Jordan teken 'n uitmuntende 65 houe aan.
Die naaswenners was die gedugte pa-en-seun-kombinasie, Johann en Danie van Langelaar, wat ook 64 houe aangeteken het, maar na die uittel tweede geplaas is. Die volgende spelers het hulle ook goed van hulle taak in die houespelkompetisie gekwyt: Johan Griesel en Johan van der Berg (65 houe), Pat Good en Wayne Mitchell (66 houe) en Noël Domingo en Gavin Reynolds (67 houe).
Jordan Duminy (voorgee +5), het met die hulp van André Basson, die afgelope Saterdag se beterbal houespelkompetisie gewen.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'