MOSSELBAAI NUUS - Covid-19 het veroorsaak dat baie beplanning oral in die wêreld in die wiele gery is. So ook Boggomsbaai-gholfklub se geslote klubkampioenskap vir 2021.
Om 'n lekker sterk veld bymekaar te kry vir die A-afdeling, moes allerhande planne gemaak word om die spelers beskikbaar te kry, en die uiteindelike datum het toe op 15 Januarie geval.
Die spelers, met voorgeë wat wissel van 1 tot 9 het mekaar op 'n witwarm en windstil dag die stryd aangesê oor 27 putjies en op die ou end is dit Henk Pienaar (1 voorgee) wat met 114 houe die botoon gevoer en sodoende sy tweede klubkampioenskap gewen het.
Sy boeties, Jaco (3) en Pienie (5), albei ook voormalige kampioene, sal moet wag tot die einde van die jaar om hul ouer broer dit na te doen.
Jarno Loubser (4), 'n nuweling op Boggomsbaai was tot kort voor die einde nog 'n kortkop voor, maar hy het in die pylvak gestruikel en het in die tweede plek klaargemaak op 117.
Die Boggomsbaai-klubkampioenskap word elke jaar deur Elna Loubser van Gariep Finansiële Beplanners van Aliwal-Noord geborg. Sy is ook 'n vakansieganger in die Suid-Kaap en sy word hartlik bedank vir haar bydrae en belangstelling in die klub se doen en late.
Uitslae
Die res van die klub se spelers het in 'n B- en C-afdeling oor 18 putjies gekompeteer en dit is veral in die B-afdeling waar daar ook baie goeie gholf opgedis is.
A-afdeling: 1. Henk Pienaar 114; 2. Jarno Loubser 111; 3. Pienie Pienaar 122; 4. Jaco Pienaar 123 en 5. Dwayne Thompson 133.
B-Afdeling: 1. Van le Roux 81 (brutotelling); 2. Flaps Winterbach 67 (beste nettotelling van die res); 3. Philip Fourie 68, 4. Willem du Plessis 70; 5. Marius Loubser 71.
C-afdeling: 1. Bennie Pienaar 97 (97 brutotelling); 2. Chris Feiertag 75 (beste nettotelling van die res); 3. Hennie Pienaar 77; 4. Johan Muller 79; 5. Marius Geldenhuys 82.
Stablefordkompetisie oor 18 putjies: 1. Flaps Winterbach 41; 2. Van le Roux 41; 3. Philip Fourie 40; 4. Willem du Plessis 39.
Naaste aan die penne is gewen deur Dwayne Thompson op 6/15 en Willem du Plessis op 9/18.
Henk Pienaar, Boggomsbaai se klubkampioen vir 2021.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'